Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Ná 'n jaar van mondkappies oftewel gesigmaskers dra en streng inperkings, kon die Voortrekkers uiteindelik weer vanjaar op Hartenbos hulle jaarlikse Seejolkamp hou.
Tradisioneel vind hierdie kamp in die wintervakansie plaas.
2021 se Seejolkampgangers het op 1 Oktober op die bus geklim en die rit na Hartenbos aangedurf.
Die kamp word reeds 'n paar dae voor die Voortrekkers arriveer opgeslaan. Daar word in Weermagtente geslaap. Die kombuis is een groot tent en 'n vraghouer word as stoorplek vir die proviand ingespan. Hier word al die kos, wat plaaslik op Hartenbos gekoop word, afgelewer.
Die kombuisspan sorg vir 200 kampgangers met behulp van 'n paar plaaslike werkers wat jaarliks kom uithelp. So word onder meer 400 eiers vir ontbyt voorberei.
FOTOGALERY: Voortrekkers 2021 Seejol
Aktiwiteite
Die kamp bestaan uit verskeie divisies, waarin die verskillende grade gedeel word. Elke divisie het sy eie program en uitstappies wat onderneem word.
Die Griffiers, dit is nou die kinders wat die kampkommunikasie en die fotografie-spesialisasie doen, het gesorg dat daar elke oggend 'n liedjie speel om die kampgangers wakker te maak. Hierdie groep Voortrekkers het ook die geleentheid gehad om op 4 Oktober, met Cathy McDonald by SFM, 90.1 te praat. Hier kon hulle meer vertel oor die kamp en ook die Voortrekkers se doel in kinders se lewens vandag.
Die groep het ook die geleentheid gekry om die veelsydige sanger en televisie-aanbieder, Pieter Koen en Kwêla se kameraspan in Sedgefield te ontmoet waar hulle aan 'n programinsetsel gewerk het. Hy het die Griffiers oor onderhoudvoering wenke gegee. Sy advies is ingespan vir die artikels wat vir die kampblad saamgestel moes word.
Die Griffiers kuier by Cathy MacDonald in die SFM-ateljee.
Verder het kampgangers oor die strande, duine en grotte geleer met een van die groepe wat twee nagte op die duine in hul eie skuilings geslaap het. Daar is besoek by die Kango-grotte asook die Dias maritieme museum afgelê en een groep het naby die Mosselbaaise hawe gaan snorkel. Vir die eerste keer is daar ook tydens hierdie kamp geleer om branderplank te ry en 'n paar hengelaars het elke dag langs die see gestaan en hard probeer om 'n vis te vang.
Die graad 11-groep het selfbehoud gedoen. Hiertydens is hulle die Sondagaand, 3 Oktober uit die kamp. Na 'n baie lang strandstaptog, moes hulle hul eie skuilings bou. Boonop moes hulle die res van die week uit die see oorleef op kos wat hulle self moes bekom.
Die inligting oor hierdie kursus is streng geheim. Vir sommige mag dit dalk na 'n nagmerrie klink, maar die groep wat die kursus deurloop het, het Donderdagmiddag die kamp binnegestap as dinamiese jong mense wat vir enige uitdaging gereed is.
Die kamp is op Vrydag, 8 Oktober tydens 'n ontspanne uitstappie by die Hartenbos Seefront afgesluit.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'