Gallery
MOSSELBAAI NUUS - "Bid, bid nogmaals vir dorp. Ons doen voorbidding vir 'n veilige omgewing vir ons kinders en vir ons bejaardes om vrylik en sonder kommer te kan rondbeweeg, om sonder vrese met mekaar te kan assosieer," het die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal tydens die Mosselbaai-biddag gesê.
Die derde agtereenvolgende interkerklike Mosselbaai-biddag is op Sondag, 15 September in KwaNonqaba gehou.
Die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal het beklemtoon dat die morele regenerasie-projek waarvan die gereelde biddae deel vorm, bestem is om die gemeenskap te verenig.
Hy het sy kommer uitgespreek oor die toename in geweldsmisdade teenoor vroue en kinders. Hiermee tesame, het hy gevra dat veral op die skoolgemeenskap, waar geweldsvoorvalle in die onlangse verlede toegeneem het, gefokus moet word. Raadsheer Levendal het ook verwys na die moord op 'n bekende sakeman in Aslapark die afgelope week en die besigheidsgemeenskap opgedra as 'n sektor vir voorbidding.
"Die inisiatief vir die Mosselbaai-biddag het geen politieke grondslag nie. Dit het gevolg op 'n gesprek wat ek met 'n bejaarde gehad het wat weens 'n toenemende aantal onwettige informele strukture in haar omgewing, nie meer veilig voel om haar huis te verlaat nie.
Ek doen 'n beroep op geestelike leiers om die leiding met voorbidding te neem. Ek doen 'n beroep op ons gemeenskap om die geweld teen vroue en kinders te staak. Ek doen 'n beroep op leerders om hulle besig te hou met hul skoolwerk sodat hulle hul op 'n beter toekoms kan voorberei."
Verskeie sprekers en kerkleiers het in voorbidding en met roerende boodskappe die biddag gelei. Pastoor Edgar Hermanus het gesê die burgemeester, sy raad en die kerkleiers roep die gemeenskap om hul afspraak met God na te kom. "Die sosiale euwels is die gevolg van 'n afvallige gemeenskap. God moedig die mens aan om te bid. Bid, veral vir vrede in ons eie harte en vir vrede in ons gemeenskap."
Die Mosselbaai-biddag is 'n plaaslike inisiatief.
Brandon Mentoor, bekende fotograaf tydens die byeenkoms.
Cynthia Puren tydens aanbidding. Regs van haar is haar eggenoot, Colin, munisipale woordvoerder.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'