TUINROETE NUUS - Die volstruisbedryf slaak 'n sug van verligting na die samesmelting van twee volstruisreuse goedgekeur is.
Die nasionale verbruikerstribunaal het op 14 Augustus die samesmelting van die verwerkingsmaatskappye Klein Karoo International op Oudtshoorn en Mosstrich op Mosselbaai goedgekeur.
Die tribunaal het daarmee die mededingingskommissie se besluit van Desember 2018 teen die samesmelting omgekeer.
Francois de Wet, aangewese besturende direkteur van die nuwe maatskappy Cape Karoo International (CKI), het vir Suid-Kaap Forum vertel wat die proses behels het en wat die waarde daarvan vir die produsente en verbruikers is.
"Die twee maatskappye se direksies en aandeelhouers het op grond van die afname in produksiegetalle van sowat 300 000 twintig jaar gelede tot 123 000, reeds in die derde kwartaal van 2018 besluit om saam te smelt. Die doel daarmee was om die bedryf in die Wes-, Oos- en Noordkaap te stabiliseer."
Die kommissie se besware was dat dit sal lei tot 'n monopolie op volstruisprodukte in die binneland wat verbruikers sal benadeel, dat aankopers nie meer vere op tender sal kan bekom nie, dat sekere dienste aan buite-verbruikers nie meer gelewer sal word nie en dat dit tot afleggings sal lei.
"Die tribunaal se voorwaardes vir samesmelting kom ooreen met die remedies wat die bedryf uit die staanspoor voorgestel het, naamlik dat sekere hoeveelhede vleis in die binneland gelewer sal word, dat die vere-tenderproses voortgaan, dat sekere dienste voortgesit sal word en dat geen afleggings wat met die samesmelting verband hou, binne drie jaar na die nuwe maatskappy in bedryf gestel word, gedoen sal word nie."
Die voordele wat die samesmelting vir die bedryf inhou, oorskadu die besware.
"Dit is belangrik om die voedingstreke vir roumateriaal te konsolideer en te stabiliseer en daarmee die afwaartse spiraal in produksiegetalle te stuit sonder om te oorproduseer.
"Verskeie faktore soos onder meer voëlgriep, gebrekkige residumonitering, veranderde verbruikertendense en die droogte, het die bedryf die afgelope paar jaar geknou. Deur gesamentlike navorsings-, mark- en tegniese ontwikkeling kan ons vinniger en makliker vorder. 'n Beter diens kan ook aan produsente gelewer word omdat verwerkingaanlegte voltyds in werking kan wees al is 'n gedeelte vir onderhoudswerk gesluit."
Piet Kleyn, hoof uitvoerende beampte van die SA Volstruisbesigheidskamer (SAVBK) sê hul lede het toestemming verleen vir die samesmelting. "Ons dink dit is 'n positiewe stap wat tot voordeel van die bedryf sal wees."
The National Consumer Tribunal has given consent for the merger of ostrich giants Klein Karoo International and Mosstrich, thereby overturning the decision of the Competition Commission of South Africa.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'