MOSSELBAAI NUUS - Die Wes-Kaapse onderwysdepartment (WKOD) se aankondiging dat voedingskemas vir behoeftige leerders tydens die grendeltydperk sal voortduur, is nie deur almal verwelkom nie.
Dié besluit is geneem aangesien leerders wat van voedingskemas by skole afhanklik is, tydens die nasionale inperking onder die afwesigheid van 'n voedsame maaltyd, nog meer blootgestel sal wees.
In 'n verklaring wat op 6 April deur die kantoor van die minister van onderwys in die Wes-Kaap, Debbie Schäfer uitgereik is, word genoem dat die departement in samewerking met die departement sosiale ontwikkeling besluit het om hierdie ondersteuning vir die volgende twee weke tot die opheffing van die nasionale inperking aan leerders te bied.
Die departement het reeds op 2 April, alvorens die verklaring uitgereik is, skoolhoofde in kennis gestel om vir die herinstelling van voedingskemas gereed te maak.
Luidens die verklaring, sal die leerders nie by die skole sit en eet nie, maar gevra word om houers te bring waarin hulle kos kan afhaal en huis toe neem.
Ongeveer 483 000 leerders vind baat by die skolevoedingsprogram, daarom het die departement besluit dat hierdie noodsaaklike diens nie onderbreek kan word nie.
Kommer
Lede van die onderwysgemeenskap in Mosselbaai het hulle kommer oor die nuwe wending uitgespreek, veral wat betref die noodsaaklikheid van beskermende kleredrag en ook oor hoe om die voorgeskrewe sosiale afstand tussen die betrokke leerders te handhaaf.
Wes-Kaapse leier van die Independent Civic Organization Of South Africa (Icosa), Dawid Kamfer het sy stem by dié van die besorgdes gevoeg. "Icosa is teleurgesteld oor die departement se besluit oor die voedingskema se reëls aangaande hoe die voedsel aan skoolkinders beskikbaar gestel gaan word. Ons onderwysers is net so belangrik vir ons, soos wat ons kinders is.
"Ons besef daar is nood in ons huishoudings en dat skoolkinders gewoond was aan die voedingskema. Maar om nou kinders na meer as 'n week in lockdown vry te laat om skool toe loop, is onverantwoordelik."
Kamfer meen dat die rondbeweeg van groepe kinders, die verspeiding van die koronavirus in die hand kan werk. "Dit gaan die wetstoepassers verdere gryshare gee. Kinders se veiligheid gaan opgeoffer word. Hulle kan beroof word langs die pad of hierdie nuwe vryheid benut vir kattekwaad. Die plan het te veel skuiwergate. Waarom nie kospakkies by huise aflewer nie?"
Kamfer meen dat dieselfde kontrakteurs wat normaalweg die kos by die skole aflaai, ingespan kan word om die genoemde risikos uit te skakel.
WKOD reageer
Kerry Mauchline, woordvoerder minister Debbie Shafer het by navraag gesê dat die voorstel nie 'n "een-grootte-pas-almal-oplossing" is nie.
"Die WKOD se distrikskantore gesels individueel met hoofde van skole sodat 'n plan gemaak kan word wat by die omstandighede pas. Ons is baie dankbaar teenoor die personeel en ook alle vrywillgers wat deelneem aan hierdie humanitêre projek," het sy by navraag aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
"Enige personeel wat bekommerd is oor die implementering hiervan word aangemoedig om hulle kommer met die skoolhoof op te neem."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'