MOSSELBAAI NUUS - Vele vlytige vingers maak vinnig fantastiese handwerk, en in Mosselbaai maak dit ook 'n tasbare verskil in mense se lewens.
Binne slegs 'n paar maande het 'n groep vroue van verskillende dorpe regoor die land in Mosselbaai bymekaargekom om hul gunstelingtydverdryf - brei en hekel - tot voordeel van die gemeenskap aan te wend.
Die dryfkrag agter die groep is Anita Hanekom, 'n afgetrede maatskaplike werker. Sy hekel nie net al die blokke wat die vroue maak aanmekaar om enkelbedkomberse te vorm nie, maar dien ook as die bindmiddel wat die groep bymekaar hou.
Hanekom en haar man het hulle in 2024 in Mosselbaai gevestig. Aanvanklik het sy steeds komberse vir die Vlytige Vingers-organisasie in Vereeniging gestuur, maar vroeg in 2026 het sy besluit om die projekte plaaslik te hou. Só is 'n Mosselbaai-"takkantoor" van Vlytige Vingers gebore.
Sedertdien het die groep reeds 10 volledige komberse voltooi, wat binnekort aan verdienstelike persone geskenk sal word. Elke kombers bestaan uit 204 blokke van 13 x 13 cm - 'n prestasie wat getuig van toewyding en samewerking.
Volgens Hanekom is die groep veel meer as net 'n brei- en hekelkring. "Dis 'n omgee-groep. As dit met jou sleg gaan en jy maak iets moois, laat dit jou beter voel. Dit gee jou 'n doel in die lewe en is kos vir jou siel," sê sy.
Van die lede het al jare lange vriendskappe.
Die Mosselbaai Vlytige Vingers kom elke twee maande amptelik bymekaar, maar bly gereeld in kontak. Nuwe lede is welkom: skakel Hanekom by 083 557 6399.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’