MOSSELBAAI NUUS - 'n "Fikse" span van VLV Voëlvlei-lede het gedurende hul eerste vergadering van die jaar, op 'n virtuele staptoer saam met Alta Landman die Pelgrimstog van Hoop tussen Stellenbosch en Agulhas onderneem.
Alta is 'n gerekende avonturier en het die vroue met haar fotovertoning en interessante vertellings saamgeneem op 'n toer deur een van die mooiste dele van die wêreld.
Volgens haar ís elke mens van geboorte af besig met 'n Camino, want die Camino is 'n metafoor vir die mens se lewensreis op soek na onder andere vergifnis en sin in die lewe. Hierdie pad word afgelê met voete, kop, hart en siel.
Anders as gedurende 'n motorrit, word die stapper bewus van groot en klein dinge langs die pad. Op die pelgrimstog tussen Stellenbosch en Agulhas, word van die mooiste kerke, parke, standbeelde, graftes, museums, monumente, natuurskoon en die goedheid van mense langs die pad 'n bewuste ervaring.
Plekke wat aangedoen is op hierdie pelgrimstog is, onder andere, Stellenbosch, Franschhoek, Pniel, Genadendal, Villiersdorp, die Hemel-en-Aarde -vallei, Gansbaai, Hermanus en Elim.
Die Pelgrimstog van Hoop tussen Uniondale en Mosselbaai is ook kortliks bekendgestel en almal is aangemoedig om meer van die pragtige plekke op die pad te besoek, al is dit net vir daguitstappies per voertuig.
Insette deur bestuurslede is gedoen en die belangrikheid van ons taal is beklemtoon deur die verwysing na die geskiedenis van Die Afrikaanse Patriot, eerste Afrikaanse koerant en die WAT se Borg 'n woord-projek. Twee gedigte uit 'n pragtige digbundel, Journey into Africa, deur Christian Müller, uitgegee in sy matriekjaar, is voorgelees. Openbare Sake het die vryheid van spraak in Afrika aangespreek.
Artikels vir die kompetisies vir die vergadering was 'n marmerkoek, suurlemoenstroop en 'n gehekelde rugsak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'