MOSSELBAAI NUUS - Die opvoedings- en kultuurkomitee van die Voëlvlei VLV-tak het gesorg vir ‘n heerlike internasionale vergadering by hulle Augustus-byeenkoms.
Nancy Naidu van 'Curry in a Hurry' in Mosselbaai het die vroue in besonderhede ingelig oor die kultuur en gewoontes van die Indiërs in Suid-Afrika.
Huwelike word deur die families van die bruid en bruidegom gereël - partykeer selfs sonder dat die twee mekaar goed ken. Oor die jare het die moderne jongmense egter daardie gebruik tot ‘n groot mate minder formeel begin benader.
In die Indiese kultuur is opvoeding baie belangrik. Goeie punte in wiskunde en wetenskap is baie belangrik en ouers verwag dikwels dat hulle kinders as dokters of rekenmeesters sal kwalifiseer.
Omdat die koei volgens die Hindoegeloof ‘n heilige dier is, word beesvleis nie deur hulle geëet nie. Hulle beskou die koei as ‘n moederfiguur en daarom word hul verbied om koeie dood te maak.
Die Hindoes glo in ‘n almagtige opperwese, maar het ook baie ander gode. Hulle lewensingesteldheid word saamgevat in die woorde: "Be good, do good" en "Do not condemn, accept".
Fees van die ligte
Lig en liggies speel ‘n belangrike rol in die Indiese kultuur. In die oggend word ‘n olielamp aangesteek om positiewe energie in die huis te bring.
Die Fees van die Ligte of Diwali is ‘n belangrike viering van lig waartydens vuurwerke vertoon word en kos uitgeruil word om respek en goedheid aan ander te toon. Ongelukkig, vir hulle, het die afvuur van vuurwerke oor die jare baie afgeneem in Suid-Afrika en word dit ook heeltemal verbied in Mosselbaai.
‘n Ander baie groot feesviering is ‘n troue. Reeds ‘n week voor die tyd kom die ouer vroue bymekaar om te begin voorberei. Drie dae voor die tyd begin die fees wat deur die hele uitgebreide families van die bruid en bruidegom en hul vriendekring bygewoon word.
Op die troudag word geskenke uitgeruil en pronk veral die vroue in hul pragtige sari's. Die klere weeg baie swaar en sommige vroue is moeg na die dag se dra aan al die krale en swaar borduurwerk.
Begrafnisse is ook ‘n geleentheid vir die hele uitgebreide famlie- en vriendekring. Dié wat ver woon, maak ook kontak deur middel van oproepe.
Om ‘n sari aan te trek is ‘n ingewikkelde proses. Nancy het gedemonstreer hoe al die verskillende dele aangetrek en vasgemaak word.
Na die tyd het al die vroue heerlik gesmul aan tipiese Indiese happies soos samoesas, chillibites en Nancy se hoender-brejanie.
Die hele geleentheid het weer net bewys dat benewens al die verskille tussen volke en groepe mense, daar ook net soveel ooreenkomste in lewenswaardes is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'