KLEIN-BRAKRIVIER NUUS - Die VLV Klein-Brakrivier tak het op 26 Februarie 'n heerlike middag saam met Heléne Swanepoel se kunsgroep geniet. Die propvol middag het onder meer 'n uitstalling van hierdie groep se pragtige kunswerke ingesluit.
Die kunsgroep lede is Heléne Swanepoel, Deville du Plessis, Retha-Jane Buys, Cecilia Pieterse, Petro Reinke, Charlotte Smith en Lydie Terblanche.
Elkeen van die lede het 'n spesifieke rol vervul, hoewel hulle op alle vlakke betrokke was. Lydie het namens Heléne as sameroeper waargeneem, Deville het die pragtige tafelversierings gedoen en Deville en Charlotte het die besondere servetrosies vir die teekoppies gedoen. Petro, met die hulp van Charlotte, het haar ervare hand oor die teetafels gehou terwyl Retha-Jane die kunsuitstalling hanteer het en Cecilia het, behalwe haar gewone pligte, ook 'n demonstrasie gelewer.
Bets Smith, 'n plaaslike skrywer van ontspanningslektuur (reeds 26 publikasies), het lekker gesels oor haar agtergrond, inspirasie en hoe helde en heldinne deur die jare verander het. Daar was 'n uitstalling van haar boeke en 'n lootjie vir een van haar heerlike leesboeke is getrek. Daar is ook 'n aparte lootjie vir Pandora se boks getrek.
Dit was seker die eerste keer in die geskiedenis van die tak dat een persoon, in hierdie geval die gelukkige Marie Kotze, albei lotings wen. Dan was daar ook 'n mosaïek-demonstrasie deur Cecilia Pieterse en 'n saamsing geleentheid met Hester Krige op die trekklavier. Smaaklike eetgoed en ander interessante items is by die marktafel verkoop.
Soos gewoonlik is die broodknippie- en plastiekproppie-projek goed ondersteun. Die maandelikse liefdesmandjie vir behoeftige diere het ook mooi gegroei. Laetitia Steyn het hiervoor 'n besonderse kombersie gebrei. Die kompetisietafels was so swaar gelaai, soveel so dat Rita Burger en Engela Buys nie deur die loop van die middag met die beoordeling kon klaaraak nie.
Nuwe VLV Klein-Brakrivier lede tot dusver vir 2019: Charlotte Smit, Helen le Roux, Retha-Jane Buys, Gerda Siebrits, Meisie Pretorius, Suzanne le Roux en Ina Greeff het oorskuif vanaf Hartenbos-tak. "Welkom julle almal."
Tydens die Maartvergadering, sal Adri Mans, 'n praktisyn in body stress release die lede meer vertel van hierdie tegniek om spanning uit die liggaam vry te stel. vir meer inligting kontak Dee Disney (083 292 0743 of disney@telkomsa.net).
'Ons bring jou die nuutste Klein Brakrivier, Tuinroete nuus'