HARTENBOS NUUS - Gehoorverlies is 'n verskynsel waarmee die meeste mense al te doen gehad het, of hulle nou self daaraan ly of vriende of familie het wat dit ondervind.
Die VLV Hartenbos het besluit om hierdie maand se byeenkoms aan gehoor en gehoorverlies te wy.
"Dis welbekend dat dit gereeld onder die ouerwordende generasie voorkom, terwyl dit egter ook in enige fase van 'n mens se lewe kan gebeur, ook onder kinders," sê die organisasie.
"'n Ander dilemma is dat die gehoor-verlies voorkom, maar dat mense dit net eenvoudig ontken en sê dis nie waar nie, so asof daar 'n stigma aan verbonde is."
Op 29 Julie bied die VLV die geleentheid aan om meer oor gehoor, gehoorverlies, gehoortoetsing en die hulpmiddels en dienste wat beskikbaar is te wete te kom. Die byeenkoms begin om 09:00 vir 09:30 by die Lede in Christus Kerk, op die hoek van Katjiepiering- en Jakarandastraat, Hartenbos Heuwels.
Daar sal ook geleentheid wees om by die marktafel 'n draai te maak. Handgemaakte artikels, pakkies brei- en hekeldraad en ander kuns- en naaldwerkitems word teen billike pryse te koop aangebied. Neem kontant saam om die VLV hiermee te ondersteun.
Indien jy besluit om die geleentheid by te woon, neem ook sommer 'n vriendin of twee saam. Skakel die voorsitter, Rolien Smit, by 084 621 2838 vir verdere navrae of indien jy belangstel om by die VLV Hartenbos aan te sluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’