HARTENBOS NUUS - Op 'n heerlike sonskyndag het die VLV-Hartenbos lede en besoekers, waaronder ook 'n aantal manne, die Norgarivier-kwekery buite George besoek.
Die eienaar, Morné Lochner, het die groep agtergrond gegee oor die kwekery se ontstaan. Dit het aanvanklik in sy agterplaas begin en daarvandaan gegroei tot wat dit vandag is.
Die VLV sê kleiner tuine is 'n realiteit vir persone wat ouer word, en daarvoor moet 'n mens so 'n bietjie anders oor tuinmaak dink.
Aspekte waarop Lochner klem gelê het is beplanning, grondgehalte, potte, voeding en plae en peste.
Die voorbereiding van die grond om water maksimaal te benut en ook onkruidgroei voorkomend te benader, is breedvoerig bespreek. Die groep het in verwondering na al die interessante metodes en wenke geluister.
'n Nommertrekking het ook gesorg dat 'n aantal lede elk met 'n plantjie huis toe kon gaan. Die groep het ook na afloop van die sessie met Lochner self rondgeloer en hier en daar aankope gedoen.
"Waar ons nou vinnig die einde van die jaar nader, wil ons graag ons gereelde besoekers, en elkeen wat belangstel in ons tak se werksaamhede, nooi om amptelik aan te sluit," sê die VLV.
Indien jy twyfel of nie weet wat om te verwag nie, nooi die tak jou uit om as 'n besoeker by hulle aan te sluit en eerstehands hul gasvryheid en interessante programme te ervaar. Navrae: skakel die voorsitter, Rolien Smit, by 084 621 2839.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’