MOSSELBAAI NUUS - Twee jong musikante van Mosselbaai en Hartenbos, Misha van der Merwe en Meya Cordewener, is onlangs gekeur om aan vanjaar se Nasionale Jeugmusiekkompetisie (NJMK) in Stellenbosch deel te neem.
Misha, 'n tjellis, en Meya, 'n violis, is onder die 28 musikante tussen die ouderdomme van 14 en 19 wat van 1 tot 5 Desember hul talent by dié gesogte kompetisie sal wys.
'n Paneel beoordelaars sal na die optredes van die gekeurde deelnemers luister.
"Gesamentlik verteenwoordig die deelnemers 'n rykdom aan plaaslike en internasionale musiekkennis en -ervaring, wat alle orkesinstrumente dek," sê Aileen Maas, die kompetisie se koördineerder.
Elke beoordelaar sal oor die vier rondes van die kompetisie na ongeveer 22 uur se musiek luister. Tydens die eerste twee rondes, op 1 en 2 Desember, sal al die deelnemers werke uit hul selfgekose repertorium uitvoer.
Slegs 12 deelnemers sal na die derde ronde, die halfeindronde op 3 Desember, deurdring.
Die ses finaliste sal daarna tydens die galakonsert op Saterdag 5 Desember saam met 'n professionele filharmoniese orkes optree.
Toegang tot die eerste drie rondes, van 1 tot 3 Desember, is gratis. Kaartjies vir die galakonsert sal vanaf 26 Oktober op Quicket beskikbaar wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’