HARTENBOS NUUS - VLV Hartenbos-lede en besoekers het tydens die tak se vorige samekoms meer oor karakterontleding geleer.
“As individue verkeer ons dikwels in verskillende groepe en meestal met verskillende dinamika in die groepe - gesinne, uitgebreide familie, sosiale interaksies, sport, werk, noem maar op,” verduidelik die VLV.
“Meestal is daar een of meer gesamentlike fokuspunte vir almal in die groep.
“Ten spyte daarvan, weet almal sekerlik dat daar maar gereeld misverstande tussen persone voorkom. Hierdie verskille verander maklik in konflik, wat dan die hele dinamika van ’n groep verander.”
Met dít in gedagte het hulle op 25 Augustus ’n praktiese oefening aangebied waar lede en besoekers ’n karakterontleding gedoen het.
Daar bestaan verskeie sulke oefeninge, maar met hierdie spesifieke ontleding is die lede en besoekers se karakters in vier kleurgroepe (rooi, blou, geel en groen) verdeel na aanleiding van hulle antwoorde op ’n vraelys wat hulle voltooi het.
’n Baie vereenvoudigde verduideliking van die kleure: ’n persoon in die rooi kategorie is tipies vrymoedig en goed met besluitneming, blou is weer meer kalm en analities, groen is empaties en gebalanseerd, terwyl geel kreatief en optimisties is.
“Op die einde het die hele ontleding ten doel dat mense mekaar beter sal verstaan en besef mense is verskillend. Tog verdien elkeen respek vir sy menswees, karakter en persoonlikheid,” meen die VLV.
Ander aktiwiteite
Minnie Mostert, ’n verteenwoordiger van ’n bekende skoonheidsfirma, het ook demonstreer hoe velmiddels aangewend moet word en in watter volgorde. Sy het hulle self die aksies laat uitvoer en verduidelik watter produkte (ongeag die maak daarvan) nodig is, asook elkeen se doel in die instandhouding en verbetering van die vel.
VLV-lede het ook tydens hierdie maand se samekoms erkenning gekry vir hul jare diens. Hiervoor het hulle ’n diensjarekenteken van die Vroue-landbouvereniging van Kaapland ontvang. Rita Burger, die tak se oudvoorsitter, is vir 45 jaar se diens erken.
Skakel die voorsitter, Mientjie Oosthuizen, by 083 650 2730 vir verdere navrae of indien jy belangstel om by die VLV Hartenbos aan te sluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’