GROOT BRAKRIVIER NUUS - Hersham op Groot-Brakrivier het die afgelope tyd onder 'n vlaag huisbrake deurgeloop. Volgens die polisie is daar in slegs een nag sewe voorvalle aangemeld.
Voorsitter van die buurtwag, Willie Liebenberg sê die hele kusgebied is geteiken en daar is ook by wonings in Dwarswegstrand en Glentana ingebreek.
Betroubare bronne bevestig dat die verdagtes vir sindikate werk en ook dat hulle langs die kusgebied doenig is in die rigting van Stilbaai. Die meeste inbrake vind tydens 02:00 en 05:00 plaas. Liebenberg sê veral wonings met hoë mure word geteiken. Polisiewoordvoerder, sers Laurianne Botha sê toegang word tot wonings verkry deur by skuifdeure of vensters in te gaan. "Dit is uit die aard van die saak makliker vir hulle om toegang te kry wanneer 'n venster oop is, maar dit is net so eenvoudig om 'n skuifdeur uit sy raam te haal. Boonop aktiveer inwoners nie altyd hulle alarms nie."
Die verdagtes word vermoedelik reeds soggens in die woongebiede afgelaai, wanneer die meeste dagwerkers vir diens aanmeld. Die werkswyse is om wonings te identifiseer, oor die mure te spring, en in die erf weg te kruip totdat die huiseienaars saans hul ligte afskakel. "Dan sak hulle toe." Tydens een voorval is 'n woning geteiken waar meer as 10 mense in 'n konferensie teenwoordig was. Volgens Liebenberg skrik dit juis nie die verdagtes af indien daar inwoners tuis is nie. "Hulle steel rekenaars en selfone. In die geval waar daar baie mense in die huis is, is dit bloot meer selfone en toerusting wat gesteel kan word." Liebenberg sê dit is kommerwekkend hoe astrant die inbrekers is.
Volgens bronne word die inbrekers op die N2-snelweg of by die treinspoor in die gebied deur 'n voertuig opgelaai.
Tydens 'n onlangse voorval het die buurtwag, Groot-Brakrivier-polisie en sekuriteitsmaat-skappye patrollies in Hersham gery. Daar is ook van 'n polisiehond gebruik gemaak en die verdagtes het in twee groepe verdeel. "Ons het gesteelde rekenaars en selfone wat hulle tydens die jaagtogte neergegooi het teruggekry."
Liebenberg sê dit is belangrik dat inwoners by die buurtwag aansluit en enige voorvalle aanmeld.
"Hoewel daar op een aand reeds om 02:00 ingebreek is, het ons eers daarvan bewus geword om 05:00. "Indien ons reeds om 02:00 geweet het, kon ons intensiewe patrollies ry."
Sersant Botha sê inwoners moet hulle alarms aktiveer. "Beligting buite jou huis help en wees paraat en bewus daarvan dat ons nie meer 'n misdaadvrye gebied is nie."
'Ons bring jou die nuutste Groot Brakrivier, Tuinroete nuus'