MOSSELBAAI NUUS - Sedert die begin van die jaar het leerders en ouers van Hoërskool Punt die skool ondersteun met vrygewige bydraes van kruideniersware en kontantdonasies vir WISH se kruidenierswareprojek.
WISH staan vir Wees Iemand Se Held.
Die doel van die projek is om iemand se held te wees deur bydrae van kruideniersware of kontant te bring wat dan gebruik word om die minderbevoorregte gesinne in die skool te help. Leerders en ouers kan eenmalig, maandeliks of kwartaalliks bydra.
"Die skool is baie trots om te sê dat as gevolg van die Punt-familie se vrygewige bydraes, dit reeds verskeie gesinne in nood kon bystaan," sê 'n Punt-woordvoerder
"Ons sien ook dikwels wonderwerke plaasvind. Ons het hierdie week byvoorbeeld ‘n pakkie voorberei vir ‘n gesin, maar het ‘n paar items gekort. Net voordat die gesin die pakkie kom haal het, het ‘n ander gesin ‘n pakkie ingebring met al die items wat voorheen ontbreek het.
"Daar was ook heelwat leerders wat skenkings vanuit hul eie sakgeld gekoop het. Sulke stories maak ons trots op ons Visse."
Punt sê baie dankie aan die leerders en ouers wat reeds items of kontant bygedra het. Verdere bydraes kan in die krat voor me Van Staden se kantoor geplaas word.
"Ons benodig gedurig nog kruideniersware en toiletware. Merk asseblief die bydrae duidelik met die leerder wat dit skenk se naam en klas."
Heart 2 Heart projek
Graad 11 se sosialekomiteelede en me Visagie het op 10 en 11 Junie met groot ywer weggespring om klere in te samel vir die Heart 2 Heart-organisasie. Daar is 'n groot hoeveelheid klere deur die leerders ingesamel.
Die leerders het met verf hul hande op materiaal gedruk, wat ‘n groot banier sal vorm. Die hande simboliseer omgee.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'