MOSSELBAAI NUUS - Die toerismebedryf op Mosselbaai is 'n ongenadige hou toegedien weens die nasionale inperking as gevolg van die Covid-19-pandemie.
Operasionele bestuurshoof van Mosselbaai Toerisme, Aneli Gerber sê toerisme is egter 'n veerkragtige bedryf wat telkens deur die geskiedenis bewys het dat dit krisisse kan hanteer.
"Die onlangse langnaweek het duidelik bewys dat mense ywerig is om te verken en weg te breek. Dit is verblydend en goeie nuus vir die bedryf." Gerber sê hulle hou asem op vir die Desembervakansie, maar tot dusver lyk Mosselbaai se besprekings volgens haar goed tussen 16 Desember en 2 Januarie, 2021. "Soos wat die inperkings verslap word gedurende die volgende maande verwag ons 'n toename in besprekings en met die skole wat heelwat later in Januarie begin, mag ons dalk net 'n ietwat langer seisoen beleef."
Herstelplan
Intussen is Mosselbaai Toerisme besig met die uitrol van 'n bemarkingsplan om te verseker dat die groter Mosselbaai die eerste keuse as vakansiebestemming is. Gerber sê sy is vol vertroue dat hierdie herstelplan vinnig die nodige voete vir Mosselbaai sal trek.
"Koopkrag is swak op die oomblik en dit beïnvloed al ons plaaslike besighede. Restaurante word verder nog onderwerp aan addisionele inperkings wat die las swaarder maak om te dra. Daarom help dit as ons dorp se inwoners plaaslik kan ondersteun."
Gastehuise
Die meeste gastehuise het met die instelling van vlak 2 van die nasionale inperking weer hul deure oopgemaak. Maar, verskeie besighede kon nie die effek van die koronavirus-pandemie weerstaan nie. Voorsitter van die gastehuisgilde op Mosselbaai, Louis Cook sê daar is baie gastehuise wat weens 'n tekort aan inkomste hul deure moes sluit. Hy sê sedert die land op vlak 2 van die nasionale inperking geplaas is, kom besprekings by gastehuise op Mosselbaai stuk-stuk in. "Ons kry veral besprekings van binnelandse toeriste en van mense vanuit die Kaap. Daar is beslis 'n oplewing maar ons sien nog nie vuurwerke nie."
Cook sê dit lyk of Desember vir gastehuis-eienaars besigheid soos altyd sal bring.
"Ons het reeds vroeër die jaar besprekings vir Desember gekry en baie van die mense het nie hul besprekings gekanselleer sedert die Covid-19-pandemie uitgebreek het nie. Ons hoop dus dat daardie besprekings steeds sal realiseer."
Volgens Cook voorsien hulle dat internasionale toeriste eers teen die einde van 2021 weer besigheid vir gastehuise op Mosselbaai sal bring.
Hoopvol
Intussen het Mornay Beukes, bestuurder van die ATKV se oord op Hartenbos bevestig dat hulle reeds vol bespreek is vanaf 15 Desember tot 5 Januarie, 2021. "Dit lyk of dit besigheid soos normaal gaan wees, maar ons is nog net nie seker of daar enige inperkingsmaatreëls steeds in plek gaan wees nie. Ons berei in elk geval voor om veral by ons woonwa-ablusieblokke gereelde ontsmetting te doen en beperking van gaste tot die ablusieblok toe te pas."
Beukes sê die nodige ontsmetting sal by hulle eenhede plaasvind voor gaste arriveer. Daar sal egter nie die normale dienste van eenhede per dag plaasvind nie. "Ons sal eers weer met die vertrek van gaste die eenhede betree en saniteer. Beukes sê hulle sien uit na die seisoen. "Dit is ons grootste inkomste jaarliks en ons besighede in die toerismebedryf is hard getref weens die inperking."
Verwante artikel: De Bakke Santos to open soon
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'