Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Hoewel die onthoringing van renosters hulle eintlik dwars in die krop steek, sal Bergsig voet by stuk hou daarmee ten einde die risiko van stroping te verminder.
Vyf renosters is vandeesweek op die plaas van wyle Kobus Crous, bekende vlieënier en wildliefhebber onthoring.
Crous is in Oktober 2021 aan Covid-19 verwante oorsake oorlede.
"Kobus se absolute liefde vir diere, veral renosters was ongelooflik. Van die eerste keer wat ons onthoring het, was hy by en vandag is ons bewus dat hy hier saam met ons is. Ons doen dit as nagedagte aan hom," sê Hein Schoeman van Umkhondo Big-5 Wildlife Volunteering.
Die organisasie bied praktiese opleidingsgeleenthede aan buitelandse veeartsenystudente. 'n Groep van Denemarke het aan Dinsdag, 1 Februarie se prosedure deelgeneem.
Volgens Schoeman is die studente 'n dag voor die prosedure deeglik voorberei op wat hulle kan verwag.
"Ons fokus absoluut op praktiese opleiding eerder as die teoretiese, maar gister het ons ongeveer 'n 2 uur lange sessie spesifiek oor renosters aangebied. Elke student het 'n spesifieke taak gekry omdat hulle effektief as 'n span moet kan saam werk," verduidelik hy. Groepe spandeer drie weke by Umkhondo en hulle werk hoofsaaklik in die Suid-Kaap, ook soms in die Karoo en Noord-Kaap.
Tydens die prosedure was verteenwoordigers van CapeNature ook deel van die span. Wildsveearts, dr Willem Burger het die hele operasie gelei.
"Onthoringing behoort as 'n afskrikmiddel vir stropers te dien. Ons verkies om met mak diere, soos dié op Bergsig te werk waar verdowming van die grond af toegedien kan word."
VIDEO: Vir die liefde van die saak
VIDEO: Vir die liefde van die saak - Deel 2
Burger het genoem dat Bergsig se renosters net meer as drie jaar gelede onthoring is. Lizelle Crous het bevestig dat een van die bulle, wat ongeveer 15 jaar oud is, nou al vir die derde keer deur hierdie prosedure moes gaan.
Die prosedure duur ongeveer 20 tot 30 minute. Nadat die horings verwyder is, word dit in 'n plek van bewaring, verkieslik die kluis van 'n bank, geplaas.
In die algemeen het die studente uit een mond gesê dat die praktiese ervaring vir hulle 'n onbeskryflike belewenis was. Hulle was ook baie beïndruk met die hoeveelheid werk wat agter die skerms plaasvind in die naam van natuurbewaring.
FOTOGALERY: Vyf renosters dié week onthoring
Een van die ouer vroue, 'n Franse burger het genoem dat sy in haar kinderjare in Kameroen gewoon het.
"Destyds in Kameroen, was daar baie wilde diere. Dit is nie meer die geval nie. Ek is hier omdat ek wil help. Ek wil natuurbewaring verstaan en help waar ek kan."
''Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'