HERBERTSDALE NUUS - Die onverwagse dood van die vierjarige Skyler Levendal het skokgolwe deur die hegte gemeenskap van Herbertsdale gestuur.
Die gewilde jong meisietjie het speel-speel omstreeks 18:15 met 'n stukkie brood in die hand by haar ouerhuis uitgehardloop. Buite die huis het sy geval en uiteindelik gesterf.
Die presiese oorsaak van Skyler se dood sal deur forensiese deskundiges ondersoek word en die KwaNonqaba-polisie het volgens die woordvoerder, sers Kapp, 'n dossier vir 'n geregtelike doodsondersoek geopen.
Volgens familie het dit oomblikke na die val voorgekom asof Skyler 'n epileptiese aanval en asemnood ondervind het. Lede van die gemeenskap het noodhulp toegepas en danksy 'n lid van die gemeenskap is suurstof bekom wat vir haar toegedien is.
Ondanks herhaalde oproepe na die provinsiale ambulansdiens op Mosselbaai, het die ambulans eers om ongeveer 20:25 op Herbertsdale, sowat 50km vanaf Mosselbaai opgedaag. Ondanks die ambulanspersoneel se pogings is Skyler op die toneel dood verklaar.
Skyler word oorleef deur haar ouers, Elroy Paulsen en Leandra Levendal, en 'n ouer sussie, Grace. Begrafnisreëlings sal hangende die forensiese ondersoek later bekend gemaak word.
Kommer
Die gemeenskap het egter hul kommer uitgespreek oor die feit dat die dorp nie oor mediese personeel, nie eens 'n gekwalifiseerde verpleegsuster beskik om na noodgevalle om te sien nie.
"Ons innige meegevoel aan die familie en naasbestaandes in hierdie hartseer tyd," sê die woordvoerder van Wes-Kaap gesondheid, Nadia Ferreira.
Sy sê Herbertsdale het 'n satellietkliniek wat twee dae per week, Dinsdae en Donderdae, operasioneel is. Dienste aan 'n gemeenskap word bepaal deur die grootte van die gemeenskap en die siekteprofiel van die gemeenskap. Dus is die fasiliteit slegs twee dae per week oop. Die geval het ongelukkig buite kliniek-ure plaasgevind. Albertinia-kliniek is die naaste vyfdagkliniek.
"Wes-Kaapse regering mediese nooddienste het op Dinsdag, 19 Februarie om 18:26 'n noodoproep ontvang vir 'n geval van stuiptrekkings in Herbertsdale. Die naaste, mees gepaste noodhulpbron was reeds besig met 'n kritieke pasiënt by 'n ernstige motorongeluk in Mosselbaai. Dié pasiënt is om 19:44 aan hospitaalsorg oorhandig en dieselfde ambulans is onmiddellik uitgestuur na Herbertsdale. Die ambulans het die 50km van Mosselbaai na Herbertsdale binne 30 minute afgelê en was om 20:17 op die toneel. Ten spyte van herhaalde pogings, kon die pasiënt nie bygebring word nie en is uiteindelik om 21:00 dood verklaar," berig die woordvoerder, Robert Daniels.
'Ons bring jou die nuutste Herbertsdale, Tuinroete nuus'