TUINROETE NUUS - Verskeie motoriste het onlangs navraag by die Mossel Bay Advertiser gedoen nadat hulle die polisie op die N2 snelweg langs die KwaNonqaba woongebied gesien het terwyl vier mans geboei op die grond gelê het.
'n Navraag is na sers Chris Spies, woordvoerder van die polisie, gestuur waarna die Advertiser na Heidelberg-polisie verwys is.
Volgens sers Imorgene Hendricks, plaaslike mediabeampte van die Heidelberg-polisie se speurtak, het drie verdagtes die Athenkozi spaza huiswinkel in Theo Adamsrylaan in Heidelberg om ongeveer 16:45 op Woensdag, 12 Julie, binnegegaan.
Een van die rowers het 'n vuurwapen uit 'n rugsak gehaal en dit op die eienaar gerig. Nadat 'n onbekende bedrag glo uit die geldlaai geroof is, het hulle die eienaar glo aangerand en op die vlug geslaan met 'n bestuurder en voertuig, wat vermoedelik buite gewag het.
Na die klagte aanhangig gemaak is, het konst Keeno Fredericks, met sy aankoms op die toneel, dadelik 'n beskrywing van die voertuig en die registrasienommer na verskeie ander polisiestasies herlei.
Die KwaNoqaba-polisie is na die N2 waar die voertuig in 'n padblokkade voorgekeer is en die vier rowers gearresteer is. Daar is beslag gelê op 'n groot bedrag kontant.
'n Polisievangwa van Heidelberg, wat die rowers agterna gesit het, het die verdagtes teruggeneem na Heidelberg waar hulle Vrydag, 14 Julie, in die hof verskyn het. Die saak is uitgestel tot 'n latere datum vir verdere ondersoek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’