MOSSELBAAI NUUS - ’n Huis waarin vier generasies gewoon het en wat reeds in 1874 in die Herbertsdale-omgewing as winkel om aalwynsap aan te koop gedien het, is die afgelope naweek op die plaas Mimosa Grove langs die Gouritsrivier ontruim en gestroop weens die voortdurende insinking van die rivierwal wat al nader aan die huis beweeg het.
Die rivier, wat weens swaar reën en herhaalde vloedskade, onder meer die Laingsburg-vloed, oor tyd sy loop verander het, het die afgelope jare toenemend nader aan die woning gekruip.
Na verlede week se hewige reënval het ’n gedeelte van die huis se stoep in die rivier beland, wat die dringende ontruiming versnel het.
Die inwoner, Arné Muller (49), die vierde generasie van haar familie wat in hierdie huis woon, sê dit was ’n uiters moeilike besluit om die eiendom finaal te verlaat. Sy het saam met haar twee susters, Ronel Pienaar en Myrza Muller, saam in die huis grootgeword.
“Na 8 Mei se vloed het die rivier bykans 30 meter nader aan die huis gekom. Ek het gedink ek het dalk nog tyd om ’n plan te maak sodat ek langer daar kan woon,” sê sy.
Die huis op die plaas Mimosa Grove langs die Gouritsrivier. Foto: Ronel Williamson
Volgens Anré het die afgelope naweek se waarskuwings oor swaar invloei uit die Moordenaarskaroo haar laat besef sy moet die huis stroop van wat sy nog kan red en finaal ontruim.
“Ek het die dooie boom voor die huis dopgehou. Dit het ses jaar gelede toe my ma oorlede is begin verlep en het uiteindelik heeltemal doodgegaan. Toe die boom weens die insinking val, het ek geweet ek moet die swembad uithaal, die sonpanele afhaal en uit die huis uit vat wat ek kan,” sê sy.
Arné sê die vensters het sigbaar gebewe toe die rivierwalle meegee. “Jy voel dit in jou maag wanneer die walle val. Dit was vir my baie hartseer.”
Sy vertel dat die Herbertsdale-gemeenskap, en veral haar buurman, Callie Muller, haar deurgaans bygestaan het.
Arné Muller. Foto: Steve D’Elboux
“Hy het die damvlakke gemonitor, en ons het dinge saam probeer uitwerk en beplan. Jantjie Jonker en die hele Jakkalsvleispan was van onskatbare waarde - sonder hulle kon ek nie ontruim nie. Jonker het my ook heeltyd gerusgestel dat hulle gereed is om met enigiets te help, en Meyer Towing het my kom help om die hout van die huis se mure te strip. Hulle was heeltyd daar en het my met alles gehelp, ook om die swembad te verwyder.”
Die meeste van die boere in die omgewing het Arné ook bygestaan. ’n Vriend, Gavin Dunkerley, het ook gereed gestaan en het dadelik gehelp om die sonpanele te verwyder toe hulle moes ontruim.
Sy sê die ondersteuning van die Herbertsdale-gemeenskap was oorweldigend. “Almal het aangebied ek moet by hulle kom bly, maar ek is baie gelukkig saam met my katte in die skuur op die plaas.”
Muller sê sy sal eendag hopelik weer ’n klein Mimosa Grovie kan bou met al die mooi hout wat hulle uit die huis kon haal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’