MOSSELBAAI NUUS - 'n Selfoonvideo waarin 'n graad 11-leerder van Hoërskool Sao Bras 'n onderwyser voor die res van die klas vloek en die onderwyser se skootrekenaar probeer toeklap, is onlangs op sosiale media vesprei.
Die omstandighede van die voorval is nie aan die Mossel Bay Advertiser bekend nie maar het weer eens die lig gewerp op onderwysers se daaglikse uitdagings wat dissipline by skole betref.
Volgens Geoffrey Gordon die skool se beheerliggaam voorsitter, is die betrokke leerder intussen dissiplinêr verhoor en geskors.
"Ons sit met baie uitdagings en het goed in plek om die probleme aan te spreek. Ons het 'n maatskaplike werker by die skool wat die kinders spreek en hulle weer na Creating Effective Families (CEF) verwys. Daar is ook 'n kliniese sielkundige wat kinders by die D'Almeida kliniek sien," sê Gordon.
Hy sê die skool se onderwysers doen alles in hulle vermoë om die kinders te help. "Maar, dissipline begin ook by die huis."
Gordon sê hulle hou gereeld vergaderings met ouers maar dikwels daag min ouers by die vergaderings op.
"Ouers gee byvoorbeeld aan die begin van die jaar vir ons hulle inligting en selfoonnommers. Maar ons vind dat dikwels wanneer ons 'n ouer in die hande probleer kry, die selfoonnommer nie werk nie of dat die oproep nie beantwoord word nie."
Die skoolhoof van Sao Bras het aan die Advertiser gesê dat hy deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement aangeraai is om nie met die media te praat nie.
Woordvoerder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, Bronagh Hammond het die voorval aan die Advertiser bevestig. "Ons is bewus van die video wat op sosiale media versprei is.
Die onderwysdepartement is bekommerd oor die toename van disrespek teenoor onderwysers en die swak dissipline in skole in die omgewing. Ons moet almal saamwerk om dissipline te handhaaf wat respek vir medeleerders en onderwysers insluit."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’