Video
MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se eie ‘Michael Jackson’ het onlangs by die Sandkasteel-kleuterskool sy opwagting gemaak.
Op slegs vyf jaar oud lyk dit of Maleeck Francke reeds sy gunstelingkunstenaar ontdek het - hy het al die look, die moves, én die byklanke!
Die kleuterskool het verlede week ’n video van Maleeck op hul Facebook-blad gedeel waar hy op die klanke van Billie Jean die ene Michael Jackson lyk. “Op die oomblik is alles MJ en die heehee-geluid wat MJ maak,” vertel sy ma, Roché.
“Hy hou van musiek oor die algemeen, maar my man, Levi, het hom voorgestel aan MJ, dit is sy gunsteling. Hy het vir Maleeck een aand ’n show gewys en daarna kon Maleeck nie genoeg kry of ophou nie. MJ het hom beslis geïnspireer, dis al wat mens heeldag hoor en sien!”
VIDEO: Maleeck wys sy Michael Jackson-moves
Video: Sandkasteel Kleuterskool/Facebook
Roché sê hy kyk die kunstenaar se vertonings wanneer hy die kans kry, en Billie Jean is sy gunsteling. Dít kan ’n mens ook in die video sien: dis moonwalk, dis die hoed, dis die klere en kleure...
“My seun het nie ’n skaam haar op sy kop nie,” vertel ’n trotse Roché.
“Hy is baie intelligent, het ’n bubbly persoonlikheid, en is altyd oop vir pret en om nuwe dinge te probeer.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’