MOSSELBAAI NUUS - Hoewel die Riversyde Manor-versorgingsoord op Groot-Brakrivier ná 'n ondersoek deur die departement van maatskaplike ontwikkeling aangesê is om op Maandag, 9 Maart te sluit, word pasiënte steeds daar behandel.
Die eienaar, Bronwen Thiart sê sy sal die versorgingsoord sluit sodra al die pasiënte by ander fasiliteite uitgeplaas word.
Pasiënte by die versorgingsoord lei meestal aan demensie of Alzheimer se siekte. Die versorgingsoord is in omstredenheid gedompel nadat klagtes deur Susan Bartholomew, dogter van wyle Hester Blignaut (86), tot verskeie bevindinge gelei het. Bartholomew het haar ma op 29 Augustus verlede jaar uit die versorgingsoord gehaal. Blignaut is bykans twee weke later aan septisemie dood. Bartholomew het 'n lys klagtes teen Thiart ingedien en Thiart ontken die bewerings.
Klagtes
Die klagtes sluit in dat haar ma mishandel en verwaarloos is en dat Thiart na bewering geen medikasie toegedien het toe sy dooie weefsel van druksere op Blignaut self weggesny het nie.
Volgens Bartholomew het Thiart haar ma aan haar nek geknyp, sodat sy haar mond moes oopmaak wanneer sy gevoer word. Sy beweer ook sy moes Thiart gereeld herinner om haar ma se inspuitings teen die vorming van bloedklonte te gee. Verder sê sy dat Thiart haar verseker het 'n drukwond sou genees en dat sy voorgestel het om, in stede van geld mors op dokters en 'n fisio, die wond met papaja, suiker, knoffel en bone moes behandel.
Ondersoek
Die departement het die Instituut vir Eietydse Navorsing Afrika (Icra) gevra om 'n ondersoek te loods.
Die Mossel Bay Advertiser het die verslag onder oë gehad. Daarvolgens is Riversyde Manor nie ingevolge die Wet op Ouer Persone geregistreer nie.
Daar was geen aansoekvorms vir toelating nie of 'n kontrak of 'n geskrewe ooreenkoms wat deur pasiënte se familielede onderteken is nie.
Daar was ook nie 'n volledige versorgingsplan, 'n beleid oor die uitgee van medisyne of boekhouding van medikasie nie.
Verder, is daar geen geregistreerde verpleegkundige by die fasiliteit nie. Thiart is 'n ingeskrewe verpleegkundige en meer as die helfte van die versorgers op die perseel het nie formele opleiding nie.
Die fasiliteit beskik ook nie oor 'n infeksiebeheerprogram of mediese afvalstelsel nie. Die verslag lui verder dat Thiart se voedingsdiens nie aan die tersaaklike wette en ander vereistes voldoen nie.
Sommige tevrede
Nie almal is ontevrede met die versorging wat hulle familie by Thiart ontvang het nie.
Die Advertiser het met familielede van pasiënte wat steeds daar behandel word gesels.
"My ma is al twee jaar in die sorg van Bronwen. Ek besoek my ma weekliks en sy het nog nooit gekla nie. Sy is baie gelukkig daar. Ons het haar twee jaar gelede uit swak sorg in Kwazulu-Natal gaan haal en haar na Groot Brak gebring. Sy het die twee jaar verbeter en gewig aangesit. Ons het nie klagtes nie."
Volgens Thiart sal sy haar versorgingsoord sluit sodra die oorblywende pasiënte elders gehuisves kan word. "Ek kan nie sluit tot die bejaardes nie alternatiewe verblyf gekry het nie," het Thiart by navraag aan die Advertiser gesê.
Sy sê: "Die bejaardes kan nie op straat gesit word nie. Daar is deur die departement opsies gegee aan die families maar dit is nie vir die families aanvaarbaar nie. Ek laat tans nie nuwe pasiënte toe nie en sodra almal uitgeplaas is sal die oord se deure gesluit wees vir bejaarde sorg, maar oop wees vir gaste en die gebruik riviergeriewe."
Volgens Thiart beplan sy om 'n saak van naamskending teen Bartholomew aanhangig maak sodra al die pasiënte uitgeplaas is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'