Update
MOSSELBAAI NUUS - Die 14-jarige meisie wat vanoggend vermis geraak het en later in in Aalwyndal gevind is, is tans in ‘n hospitaal op Mosselbaai vir waarneming voordat sy ontslaan sal word.
Kiara Nel se voog, Marryanne Marais het aan die Mossel Bay Advertiser bevestig dat Kiara in ‘n kloof in Aalwyndal gevind is.
“Sy het op ‘n klip gesit en die Mosselbaai se Brand en Reddingsdiens en plaaslike ambulansdienste het haar daar gaan uithaal.”
Kiara is laas gesien toe sy vanoggend by die Zettie Jonker Hulpsentrum op Hartenbos vir ‘n onderwyser gevra het of sy badkamer toe kan gaan. Sy het egter nooit weer teruggekeer na haar klaskamer nie en is kort daarna by die Da Gamaskop-polisiestasie as vermis aangemeld.
Polisiewoordvoerder, kapt Wollie Fourie sê Kiara is om 08:30 by die polisiestasie as vermis aangemeld. “Saam met ‘n soekgeselskap waar daar ook baie buurtwaglede betrokke was, asook twee Starlite helikopters, is Kiara om ongeveer 13:50 opgemerk in die kloof tussen Aalwyndal en KwaNonqaba. Die reddingswerkers moes met ‘n tou afklim om by haar te kom en het haar na veiligheid gebring. Sy het aan hitteuitputting gely maar is veilig.”
Marryanne het gesê hulle sal na alle waarskynlikheid vanaand huistoe kan gaan.
Lees 'n vorige artikel: Noodwerkers bedank
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'