Update
HARTENBOS NUUS - 'n Inwoner van Hartenbos, Rassie Erasmus (78) is op Dinsdag, 25 Julie gevind nadat hy op Saterdag, 22 Julie in die Beaufort Wes-omgewing vermis geraak het.
Erasmus het Saterdag na Namibië vertrek om by sy kinders in Windhoek te gaan kuier. Volgens 'n familielid van Erasmus, het 'n verkeersbeampte hom egter duskant Oudtshoorn gestop en hom gevra om terug te draai na Hartenbos omdat sy bakkie se lisensie verval het.
Verkeersbeamptes het aan Erasmus gesê dat hy nie na Namibië sal kan ry met die lisensie nie en het hom teruggeneem na die Oudtshoorn-pad sodat hy kon terugkeer huis toe.
'n Familielid van Erasmus, Aletta van der Vyver sê 'n boer in die omgewing het aan die familie vertel dat Erasmus Maandag by sy plaas vir petrol gevra het, maar dat daar slegs diesel op die plaas was. Erasmus het ongeveer 30km verder gery waarna sy bakkie verlate gevind is. Hy was egter skoonveld en het vermoedelik om hulp gaan soek.
Polisiebeamptes het daarna met honde na Erasmus begin soek en hy is ongeveer 11:00 Dinsdagoggend in 'n bergagtige gedeelte van die gebied opgespoor. Volgens Van der Vyver is Erasmus in die Beaufort Wes-hospitaal opgeneem. "Hy is getraumatiseer en het nie water by hom gehad nie. Die dokters het vir hom slaappille gegee omdat hy ook vir 'n geruime tyd nie geslaap het nie.
Hy wou ook aanvanklik nie slaap nie en het heeltyd gevra dat hy nie alleen gelaat moet word nie." Van der Vyver sê hoewel familie vermoed dat Erasmus aan 'n vroeë stadium van Alzeimer se siekte lei, is dit nog nie deur 'n neuroloog gediagnoseer nie.
"Die dokters het ook toetse gedoen en dit blyk dat Rassie se niere nie voldoende werk nie. Dit mag dalk wees oor hy vir 'n lang ruk sonder water was." Volgens Van der Vyver sal Erasmus nadat hy uit die hospitaal ontslaan word, moontlik by sy kinders in Windhoek gaan aansterk.
Lees 'n vorige artikel hier: Vermiste Hartenbos man gevind
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'