Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Nóg sewe woongebiede in Mosselbaai wat voorheen beurtkrag vrygespring het, sal vanaf 3 Maart aan verminderde kragtoevoer blootgestel word.
Dié aankondiging is gister, Donderdag 23 Februarie, deur Mosselbaai se burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé tydens 'n raadsvergadering bekend gemaak.
Hierdie woongebiede is: Island View, Vogelsang, Mosselbaai Gholflandgoed asook die gholfklub, Village on Sea, insluitend Ocean Ridge, Blombos en Santos Haven. Die aankondiging volg nadat inwoners en besigheidseienaars in die Mosselbaai-munisipalegebied wat wel beurtkrag kry, sedert Sondag, 19 Februarie aan fase-6 blootgestel is.
Suid-Afrika het sedert 31 Oktober 2022 elke dag beurtkrag en besighede wat nie reeds weens die inpak hiervan moes sluit nie word nou op hul knieë gedwing.
Telemetriese-afskakeling
Eskom skakel ses van die sewe substasies op Mosselbaai tydens beurtkrag af. Dit sluit die Voorbaai-substasie uit omdat PetroSA se tenkplaas in Voorbaai sy krag hiervandaan kry.
Kragtens nasionale regulasies is depots vir die op- en aflaai van brandstof vrygestel van beurtkrag.
Die sewe woongebiede wat voortaan aan verminderde kragtoevoer blootgestel sal word, lê ook op die Voorbaai-substasie wat beteken dat hierdie areas telemetries deur die munisipaliteit afgeskakel sal word.
Dit was nie teen die ter perse gaan bekend of die "nuwe" gebiede aan 'n ander skedule as die res van Mosselbaai onderhewig sal wees nie.
Intussen het die feit dat sekere inwoners en besighede in die Mosselbaai-munisipale gebied aan beurtkrag blootgestel word en ander nie, 'n verdeeldheid in die dorp gebring.
Kotzé het in sy toespraak gesê hulle weet dat inwoners gefrustreerd is met beurtkrag. "Anders as wat algemeen aanvaar word, is die munisipaliteit diep bewus van die gees van spanning in ons dorp."
Kotzé sê hulle probeer ingeligte besluite neem om 'n langtermynramp wat die groter Mosselbaai en sy inwoners affekteer, te verhoed.
VIDEO: State of the town address
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'