MOSSELBAAI NUUS - Die hoof van Hoërskool Punt, mnr JA Bester verlaat die skool aan die einde van 2017.
Hy het besluit om sy gesondheid voorop te stel en die onderwys te verlaat deur met pensioen te gaan.
Hy het 36 jaar diens in die onderwys, waarvan 14 jaar as skoolhoof is.
Meneer Bester het in 2008 gedurende ‘n moeilike tyd in die skool se geskiedenis as hoof van Punt die leisels oorgeneem.
Die skool was op ‘n laagtepunt wat voorkoms, dissipline en akademie betref.
Deur bekwame leierskap en konstante toepassing van gesag het hy die skool gedraai van ‘n verwaarloosde eiendom waarvan die vensters uitgeval het as dit oopgemaak word, tot ‘n spogskool waarop die gemeenskap trots kan wees.
Die skool is veilig omhein en pragtige bougainvilleas versier die pallissades. Die tuine is ook verbeter.
Besoekers van ander skole maak gedurig opmerkings oor hoe netjies die skool lyk.
Binne die skool het hy ook die adjunkhoofde-, departementshoofde- en sekretariële kantore so georganiseer en laat verbou dat elkeen hul eie kantoor het en daarom met verbeterde professionaliteit kan funksioneer.
Die personeelkamer en al die ablusieblokke vir leerders en personeel is werklik op ‘n baie hoë standaard gebring.
Wat die akademie betref het mnr Bester met ‘n passie gesorg dat gehalte onderrig in die klasse geskied.
Waar daar probleme was met leerders of onderwysers wat nie hulle kant gebring het nie, was hy altyd bereid om met albei partye in gesprek te tree om die probleem uit te sorteer.
Meneer Bester het gedurende sy tyd as skoolhoof die nuwe vakke, toerisme, visuele kuns asook musiek ingefasseer en het ook met bekwame leiding, toegesien dat die drie departemente werklike steunpilare geword het op die skool se akademiese veld.
Uitstekende uitslae was jaarlikse aan die orde van die dag gewees.
Hoogtepunte was die vier graad 12-leerders wat in 2010 op die Wes-Kaap onderwysdepartement (WKOD) se meriete lys was, sowel as die een elk in 2014 en 2015.
Die skool presteer akademies baie goed en het ook ‘n naam opgebou by die WKOD as ‘n skool van uitnemendheid.
Wat die dissipline van die leerders betref, het mnr Bester ‘n groot rol gespeel om die skool stabiel te hou sodat onderrig in ‘n veilige omgewing kan plaasvind.
Hy het begin deur ‘n waardestelsel te implementeer wat regdeur die skool ingestel is.
Menige oudleerders het al getuig hoe die waardes wat hulle by die skool aangeleer het, hul in die lewe gehelp het.
Meneer Bester was altyd beskikbaar om dissiplinêre probleme wat onderwysers ondervind, op te los en aangesien hy ‘n man is wat by die reëls hou, het leerders geweet waar hulle met hom staan.
Hy het ook die leerders sterk aangemoedig om hul skool se beeld met trots uit te dra en te alle tye hul skooluniform te respekteer.
Mevrou Rozelle Smith-Neethling, kringbestuurder van kring 2 van die Eden- en Sentrale Karoo-distrik van die WKOD, het ook in haar afskeidstoespraak tydens die jaarlikse prysuitdeling, melding gemaak daarvan dat mnr Bester as prinsipaal streng voorkom, maar dat hy ‘n innemende man is wat altyd beskikbaar is om klagtes van ouers te hanteer.
Klagtes is dan ook altyd op ‘n positiewe manier opgelos.
Sy het verder genoem dat sy al die jare gemaklik met hom saamgewerk en dat sy en die ander prinsipale van die kring, opgekyk het na sy wysheid, kennis en insig oor onderwyssake.
Meneer Bester sê dat hy in hierdie byna 10 jaar wat hy skoolhoof was van Hoërskool Punt, slegs die skool se belange voorop gestel het.
Hy het werklik sy lewe gewy aan sportbyeenkomste, funksies en skoolvergaderings.
Hy het probeer om sover dit moontlik was alle optredes van leerders by te woon. Hy was te alle tye ‘n "trotse vis".
Hoërskool Punt is dankbaar vir al sy insette en salueer mnr Kobus Bester en wens hom gesondheid en vrede toe op sy nuwe pad.
Lees 'n verwante artikel: Punt se skoolhoof bedank
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'