MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-munisipaliteit se besluit om groter tariefverhogings op eiendomsbelasting te hef, teenoor die aansienlike laer tariefverhogings op dienstetariewe, bring mee dat meer van die inkomste vir die dorp behoue bly.
Eiendomsbelasting is zero rated vir BTW en geen belasting op toegevoegde waarde is dus aan SARS betaalbaar op inkomste uit eiendomsbelastingstariewe nie.
Daarenteen neem SARS die volle 15% BTW op inkomste van ander dienstetariewe.
Sommige van die dienste gelewer, onder meer die lewering van water, sanitasie, vullisverwydering en elektrisiteit is veronderstel om gelyk te breek of 'n wins vir die munispaliteit te lewer, wat weer aangewend word om eiendomsbelasting se tariewe te subsidieer.
Munisipale rekeninge
Alle munisipaliteite moet die berekening van sekere tipiese rekeninge openbaar as deel van die begrotingsdokumente. Drie sodanige rekeninge word deur Nasionale Tesourie voorgeskryf, naamlik:
- Gemiddelde huishoudingrekening waarvan die rekening gebaseer is op eiendomswaardasiewaarde van R700 000; 1000 kWh elektrisiteit en 30 kiloliter water;
- Bekostigbare huishoudingrekening waarvan die rekening gebaseer is op eiendomswaardasie-waarde van R500 000; 500 kWh elektrisiteit en 25 kl water; en
- Deernishuishoudingrekening waarvan die rekening gebaseer is op eiedomswaardasiewaarde van R 300 000; 350 kWh elektrisiteit en 20 kl water (50KWh en 6 kl gratis)
Beheer
Die munisipale rekeninge kan verdeel word tussen tariewe waaroor die munisipaliteit beheer het en ander waar die prys inderwaarheid beheer word deur 'n ander instansie. Tans het die munisipaliteit volle beheer oor die stygings in eiendomsbelasting, water en sanitasie, terwyl NERSA/Eskom en Tuinroete-distriksmunisipaliteit die kostestruktuur van elektrisiteit en vullisverwydering bepaal en voorskryf, asook SARS die BTW.
Belangrik
Indien die presentasieverhogings van die tariewe waaroor die munisipaliteit beheer het, bereken word, is die styging vir 'n gemiddelde huishouding slegs sowat 3.9% of R30.06, terwyl die res se styging 15.2% of R309.42 beloop. Die grootste bydraende faktor tot die abnormale styging is Eskom-tariewe wat met 15.63% styg vir plaaslike owerhede.
Volgens munisipale rekords sal die tipiese gemiddelde middelinkomste huishouding algeheel sowat 13% meer vir hul munisipale rekening opdok. "Own" verwys na uitgawes waaroor die munisipaliteit beheer het, teenoor "take" wat na uitgawes verwys waaroor die munisipaliteit geen beheer het nie.
Effek van stygings
Volgens die munisipaliteit se berekeninge, sal die gemiddelde huishouding se rekening slegs sowat 10.2% of R285.56, styg, die bekostigbare huishoudingsrekening met 9.4% of R184.53, en die deernis huishouding na subsidie met 10.5% of R60.86 per maand styg.
Subsidies en hulp
Huishoudings kan ingevolge die munisipale beleid om subsidies en deernishulp aansoek doen. Vir deernishuishoudings is daar twee vlakke. Vlak 1 deernishuishoudings - wat beteken die huishoudelike inkomste is nie meer nie as twee keer staatsouderdomspensioen - betaal nie die basiese fooi vir elektrisiteit, water, sanitasie en vullisverwydering nie. Hierdie huishoudings ontvang 6 kl water en 50 kWh elektrisiteit gratis.
Vlak 2-deernishuishoudings, dus huishoudings met 'n total huishoudelike inkomste van nie meer nie as vier keer staatsouderdomspensioen, ontvang 50% subsidie en 25 kWh elektrisiteit gratis.
Die deernishuishouding is verantwoordelik vir alle gebruike bo die vlakke soos vermeld. Daarom is daar nog steeds 'n rekening vir die deernishuishoudings soos voorgeskryf deur die Nasionale Tesourie.
Pensionarisse
Daar is kortings vir pensionarisse, persone wat bo 60 oud jaar is of medies onbevoeg verklaar is om te werk.
Die man en vrou se inkomste mag nie meer wees nie as R15 750 p/m of R21 000 p/m wees om te kwalifiseer vir 'n afslag van onderskeidelik 50% of 30 % op eiendomsbelasting en/of die sanitasiegedeelte van die rekening.
Daar is ook voorsiening gemaak vir huishoudings wat met persone met gestremdhede saamleef om vir die volle deernissubsidie te kwalifiseer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'