MOSSELBAAI NUUS - 'n 15-jarige meisie is deur haar sussie gered ná sy byna by Die Poort verdrink het.
So vertel Trevor Coetzee, een van die lewensredders, wat vandag, 9 Januarie, aan diens was toe dié voorval plaasgevind het. Hy en Joy Moses het die meisie gehelp toe sy uit die water gehaal is.
Coetzee sê die 15-jarige het iemand in nood probeer help toe sy self in die moeilikheid beland omdat die persoon haar onder die water ingetrek het.
Haar sussie het dit gelukkig gesien en albei te hulp gesnel.
Coetzee en Moses het haar aan wal geassesseer. Hy sê haar longe was effens vol water. Ná kardiopulmonêre resussitasie toegepas is, het van die water uitgekom. Hulle het ook haar deur 'n braking-oefening geneem waarna nog water uitgekom het. Hierna is sy in die herstel-posisie geplaas en is daar op die mediese dienste gewag.
By Grace ambulansdienspersoneel het die meisie gestabiliseer en is sy na Mosselbaai Provinsiale Hospitaal geneem vir verdere assessering.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’