Update
GREAT BRAK RIVER NEWS - Dillend Jacobs, die 29-jarige verdagte in die moord op Colin Bone, 'n bejaarde inwoner van Groot-Brakrivier, bly steeds in aanhouding terwyl sy saak voortduur.
Jacobs het op 19 Junie sy eerste verskyning in die Mosselbaai-streekhof gemaak, ná hy reeds verskeie kere op Groot Brak in die hof verskyn het.
Sy saak is uitgestel tot 10 Julie. Jacobs is sedert sy inhegtenisname in September verlede jaar in aanhouding. Die aanvanklike aanklagte in die saak was huisroof en poging tot moord, maar is ná Bone se afsterwe op 26 September na huisroof en moord verander.
Bone, wat vermoedelik op Sondag, 17 September, verlede jaar op sy hoewe met 'n piksteel aangerand is, is weens sy beserings in die hospitaal oorlede.
'n Voorlopige ondersoek het daarop gedui dat Bone met onder meer 'n piksteel oor sy kop geslaan is. Daar was ook 'n bebloede klip op die toneel.
Hy is van die George hospitaal na die Groote Schuur hospitaal in Kaapstad oorgeplaas waarna hy weer terug is na die George hospitaal waar hy oorlede is.
Sy wit Opel Astra en sy selfoon is gesteel. Die verdagte is kort daarna op Villiersdorp in hegtenis geneem. Die voertuig is ook in dié gebied gevind.
Vorige artikels:
- Verdagte in Groot Brak-moord weer in hof
- Groot Brak inwoner sterf na aanval
- Verdagte vas na aanval op Hoewe-eienaar
- Honde waak by hul eienaar
- Man op kleinhoewe aangeval is in koma
- Man kritiek na aanval op plaas
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’