Update
MOSSELBAAI NUUS - Drie Jack Russels het by hulle eienaar gewaak nadat hy deur 'n onbekende getal verdagtes verlede naweek op sy hoewe buite Groot-Brakrivier met 'n piksteel aangerand is.
Die bejaarde inwoner, Colin Bone is vermoedelik Sondag aangeval en 'n buurman, Tiny Lourenco het Maandagoggend op sy bebloede buurman afgekom.
Bone se wit Opel Astra, 'n selfoon en vermoedelik 'n vuurwapen is tydens die aanval gesteel.
Die honde was erg verskrik na die aanval en 'n vriend van Bone het hulle die afgelope week daagliks vir 'n stap op die hoewe geneem en gevoer. 'n Familielid het aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat hy vandag, op Vrydag, 22 September vanaf Johannesburg na Groot-Brakrivier reis om die huis op te ruim en die drie honde dan saam met hom te neem.
Bone is met kritiese beserings in die George hospitaal opgeneem en kort daarna na die Groote Schuur hospitaal in Kaapstad oorgeplaas. Hy was in 'n koma en met die ter perse gaan nog nie by sy volle bewussyn nie.
Lourenco het onraad vermoed nadat hy Maandag by die hoewe, The Highlands aangekom het vir 'n afspraak met Bone. Hy het onraad vermoed nadat hy gesien het die motorhuis se deur is oopgebreek en bloed en Bone se bril by die agterdeur opgemerk het.
Daar was 'n bloedspoor vanaf 'n stoel in die sitkamer tot by die hoofslaapkamer waar Bone op die grond gevind is.
Die Opel Astra is kort na die aanval op kameras by Klein-Brakrivier opgemerk waar dit in die rigting van Kaapstad gery het.
Nog niemand is met die ter perse gaan in hegtenis geneem nie. Die polisie op Groot-Brakrivier ondersoek 'n saak van huisroof en poging tot moord.
Die kleinhoewe waar die aanval plaasgevind het se naam is The Highlands.
Colin Bone
Die huis op die hoewe se voorkant. Die motorhuis se deur was oopgebreek en 'n wit Opel Astra is uit die motorhuis gesteel.
Polisiewoordvoerder, sers Lauriane Botha voor die woning waar Colin Bone aangeval is. Foto's: Louise Karsten
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’