MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit gee om vir die gestremdes in die gemeenskap. Dít was die boodskap van die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal en die wyksraadslid, raadsheer Cliffie Bayman toe hulle vandeesweek onverwags 'n besoek gebring het by Deseree Alfreds.
Deseree, nou 36, het op tweejarige ouderdom 'n siektetoestand opgedoen wat haar gestremd gelaat het.
Die munisipaliteit het onlangs die ablusiegeriewe, wat aanvanklik buite die huis opgerig is, verbeter deur direkte toegang vanuit die huis in te rig, en het ook 'n verbeterde loopvlak verseker.
Deseree was oorstelp van vreugde toe sy raadsheer Bayman sien, en het 'n pragtige tekenprent aan die burgemeester se persoonlike assistent, Peter Juthe oorhandig.
Burgemeester Levendal het gesê die raad en munisipaliteit doen waar moontlik met beskikbare fondse alles in hul vermoë om die lewensgehalte van veral gestremde persone beter te maak.
Deseree Alfreds oorhandig 'n prent aan Peter Juthe, die persoonlike assistent van die burgemeester. Foto: Grey Stopforth
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'