MOSSELBAAI NUUS - Die meeste van ons is deesdae totaal geïntegreerde burgers van die kuberwêreld. Daar gaan seker nie 'n dag verby wat elkeen van ons nie meer as een maal WhatsApp boodskappe lees of stuur, Facebook besoek en iets 'Like' of selfs kommentaar lewer op een of ander plasing, ons ontvang en stuur e-posse, is aktief op Twitter, praat met vriende en familie met FaceTime, ensovoorts. Voorwaar bied die moderne kuberwêreld vir ons vele voordele.
Baie van ons is baie aktief op sosiale media en spandeer heelwat tyd op verskeie van die sosiale media forums hierbo genoem.
Ook baie aktief op hierdie forums is vele kuberswendelaars wat op een of ander manier die naïewe, onskuldige gebruikers probeer indoen.
Dit is vir my opvallend hoeveel verskillende kuberslenters die laaste tyd op die onderskeie sosiale media forums die rondte doen.
Die volgende is 'n kort beskrywing van 'n paar van hierdie slenters wat tans in die omgang is en hoe die kuberswendelaar die onkundige gebruiker probeer inloop.
'n Rukkie terug op Facebook het 'n 'advertensie' die rondte gedoen dat Coca Cola 'n klomp klein yskassies weggee. Al wat jy moet doen, is om te antwoord en aan te dui watter kleur yskas jy wil hê. So was daar derduidende Facebook gebruikers wat geantwoord het en aangedui het of hulle 'n wit, rooi of swart yskassie wil hê. Soortgelyk het die 'Toyota Hilux ,Club' (let op die verkeerde posisie van die komma) 'n inskrywing op Facebook versprei wat noem dat nog twee Toyota Hilux voertuie weggegee gaan word.
Al wat die ontvanger van die boodskap moet doen, is om 'Win' te antwoord. In die geval van die Toyota 'kompetisie' antwoord hulle dan dat jy nog verder die 'Like' simbool moet klik. Party slenters noem nogal dat jy eers die bladsy met vyf of tien van jou Facebook-vriende moet deel voordat jou inskrywing ingesluit word.
Hierdie is twee voorbeelde van slenters wat bekend staan as 'Like farming'. Wat die swendelaars eintlik doen, is om Facebook-gebruikers se adresse te versamel en te verkoop. In die geval van die Toyota slenter kan 'n mens sien dat daar alreeds 28 000 hoopvolle mense geantwoord het. Beslis gaan niemand 'n Toyota of 'n Coca Cola yskassie wen nie. Al persoon wat hier wen, is die swendelaar wat op 'n stadium hierdie duisende Facebook-adresse gaan verkoop aan een of ander bemarkingsmaatskappy wat dan op hulle beurt hierdie Facebook-gebruikers gaan bombardeer met advertensies, ander kuberslenters, ensovoorts.
Verder, alhoewel jy dalk slim genoeg is om nie op hierdie tipe Facebook inskrywings te reageer nie, reageer een van jou Facebook vriende dalk wel. Aangesien jou vriende reageer, die inskrywing 'Like' of 'Share', word dit ook na jou Facebookblad toe gestuur en ontvang jy ook hierdie slenterinskrywings en word so deel van die hele skelmspul. Natuurlik vind soortgelyke slenters ook plaas op WhatsApp, epos, sms, ensovoorts. Die gevolg is, jy word ingetrek by ander slenters soos; Netflix, SA Post Office, Amazon Warehouse, Lotto, en vele meer wat ek onlangs onvang het.
Byvoorbeeld, Netflix laat weet vir jou dat hulle 'n probleem ondervind met jou rekeningbesonderhede, SA Post Office laat weet jou dat jy klaarblyklik 'n bedraggie skuld vir afleweringskoste van 'n pakkie, Amazon verkoop palette onafgelewerde pakkies teen weggee pryse, Lotto laat weet jou jy het gewen maar moet 'n administratiewe bedraggie betaal, ensovoorts. Alles natuurlik valse inligting wat of private inligting by jou wil bekom (byvoorbeeld bankbesonderhede in die geval van Netflix) of geld (in die geval van SA Post Office, Amazon en Lotto).
Hierdie tipe slenters raak al hoe meer, veral rondom 'Black Friday', Kersfees, en soortgelyke groot gebeurtenisse.
Die slenters word versprei deur sosiale media, e-posse, smsse, ensovoorts. Wees asseblief wakker en MOENIE reageer op enige manier nie.
Ook, vra jou vriende om versigtig te wees aangesien hulle jou ook onwetend betrek.
In die kuberwêreld van vandag is dit baie belangrik dat elke gebruiker kuberslenters moet kan identifiseer en hom/haarself kan beskerm daarteen. Onthou, enigiets wat te goed is om waar te wees, is beslis 'n slenter. Verder, moet nooit enige privaat inligting met enigiemand deel nie, al klink dit hoe opreg of hoe dringend.
Prof Rossouw von Solms is 'n emeritus professor en lid van die Sentrum vir Navorsing in Inligting en Kubersekerheid aan die Nelson Mandela Universiteit.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'