FRANSMANSHOEK NUUS - 'n Inisiatief van die veldwagter van Fransmanshoek, Kei Heyns en die studente wat saam met hom werk is daarop gemik om veral strandhengelaars bedag te maak op die korrekte maat vis wat gevang en huis toe geneem mag word.
Heyns, Nicole Blignaut en Anton Barnard het onlangs plakkers op die onderskeie vullishouers in die terrein aangebring om inligting veral oor die uiters skaars galjoen te verprei.
Net so belangrik as wat dit is dat ondermaat vis in die see teruggeplaas moet word, is dit om die groot grootte vis lewendig los te laat in die see sodat hulle vir die gesonde aanteel van die spesie kan sorg.
Aan die agterkant van die vullishouers is daarom 'n plakker aangebring met mates - amper soos 'n maatband - en merkers om die hengelaars presies te wys wat te klein, en wat as te groot vir huisgebruik geag word.
Die veldwagters doen ook 'n beroep op die publiek om die plekke waar hulle hengel net so ongerep te laat as wat hulle dit aangetref het. Hulle vra spesifiek dat ou vislyn van die strande verwyder moet word sodat die seelewe nie daarin verstrengel raak nie.
Veldwagter Kei Heyns, en student Nicole Blignaut en Anton Barnard wys die vullishouers wat bestem is om vissers bedag te maak op die bewaringswaarde van vis en die minimum en maksimumgrootte van die vis wat gevang mag word. Foto's: Dave van der Merwe
'Ons bring jou die nuutste Fransmanshoek, Tuinroete nuus'