MOSSELBAAI NUUS - 'n Veldbrand op die padreserwe langs die N2 digby Danabaai op Donderdag, 18 Julie is waarskynlik veroorsaak deur spuitkannetjies wat in die vragruim van 'n munisipale vulliskompakteerder ontbrand het.
Die bestuurder van die vulliskompakteerder het gelukkig die rook vanuit die vragruim opgemerk en het onmiddellik die vrag vullis afgelaai.
Sy blitsige optrede het nie net sy lewe gered nie, maar het ook meegebring dat die voertuig slegs oppervlakkige skade aan die verf opgedoen het.
Nooddienspersoneel het hul onmiddellik na die toneel gehaas waar een van die bane van die N2 - rigting Kaapstad - vir geruime tyd vir verkeer gesluit was terwyl brandweerpersoneel die brand, wat ook tot die droë veld in die onmiddellike omgewing versprei het, geblus het. Die vrag vullis is ondersoek en 'n hele aantal gekompakteerde aërosolhouers is opgemerk.
"Die publiek moet besef dat gevaarlike vullis nie in die gewone huishoudelike vullis hoort nie," maan die senior bestuurder van afvalbestuur, Sivuyile Mtila.
Hy sê die munisipaliteit is verlig dat die bestuurder van die vullisverwyderingsvoertuig omsigtig en tydig opgetree het en daarmee sy eie lewe, benewens die voertuig van erge skade, gered het.
"Personeel word gereeld blootgestel aan gevaarlike afval, onder meer gebruikte spuitnaalde, wat algemeen in die gewone huishoudelike vullis gestort word sonder dat ag geslaan word op die nagevolge van sodanige optrede.
"Die gemeenskap word weer eens ernstig versoek om nie gevaarlike vullis sonder meer saam met alledaagse huishoudelike vullis weg te maak nie.
Gevaarlike vullis sluit onder meer spuitkannetjies in, ook gloeilampte en neonbuisligte, batterye, gebruikte olie, ou of verslane medikasie en nog meer.
"Die munisipaliteit hou gereeld spesiale geleenthede waar hierdie tipe vullis veilig van ontslae geraak kan word. As dit moeilik is om by hierdie geleenthede van die vullis ontslae te raak, kan dit ook in die spesiale houers by die vullisstortingsterreine by KwaNonqaba en Sonskynvallei afgegee word," vra Mtila.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'