Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Die wegspring van een van Suid-Afrika se mees uitmergelende bergfietsrenne, die Cape Pioneer Trek sal ongetwyfeld 'n trekpleister vir honderde toeskouers, ondersteuners en sportadministrateurs van die deelnemers dié naweek wees.
Met die fees se gees wat nog nie gedemp is nie, vorm die Cape Pioneer Trek deel van die Mosselbaai Sport- en Rekreasiefees. Plaaslike SA bergfietsryers soos Robyn de Groot, Yolandi de Villiers en Matthys Beukes, om maar enkeles by die naam te noem is gelys as deelnemers van die 2018-fietsren wat op Dinsdag, 16 Oktober by Milkwood Primêre Skool begin. Die fietsren word op Sondag, 14 Oktober met 'n opwarmingsren vanaf Milkwood Primêr voorafgegaan.
Deelnemers van regoor die wêreld sal Dinsdag van Mosselbaai na George ry. Donderdag, 18 Oktober vertrek hulle na Oudtshoorn om Sondag, 20 Oktober voor die Oudtshoorn Queens Hotel klaar te maak.
Meer inligting oor die fietsren is op die webtuiste www.capepioneer.co.za beskikbaar.
Branderplankry
Saterdag, 13 Oktober en Sondag 14, Oktober se branderplankry by die Punt gaan ook vir groot opwinding sorg. Hierdie watersport is gedagboek om van 07:00 tot 17:00 daagliks te vind.
Op die strand en langs die parkeerarea sal toeskouers met verskeie relevante vermaaklikhede besig gehou word, terwyl die branderplankryers hul talent in die branders ten toon stel.
Deelnemers aan die CrossFit-kampioenskappe.
Boks, sokker en basketbal
Môre, 13 Oktober is die Imekhaya Primêre Skool se saal geboek vir boksgevegte wat toeskouers se adrenalien behoorlik sal opjaag. Mosselbaai se Bulelani Ngondeka en Mbulelo Gubula sal in een van die hoofgevegte mekaar die stryd aansê.
'n Geveg wat verseker die toeskouers op hulle voete sal hê, is wanneer Plettenbergbaai se Unathi Golden Boy Mndwana teen Ntandozo Dliwako van Kaapstad te staan sal kom om om die vakante Wes-Kaapse liggewigtitel te veg.
Die Wes-Kaapse junior liggewigkampioen, Nwabisile Colani sal ook in te siene aksie wees.
Die gevegte begin om 18:00.
Op Uitbreiding 23 se sokkervelde is 16 sokkerspanne besig om aan die Burgemeesterstrofee deel te neem. Hierdie trofee word Sondagaand om 18:00 aan die wenners oorhandig.
Basketbal word ook vanaf vanoggend, 12 Oktober tot Saterdag, 13 Oktober in KwaNonqaba se Barcelonasaal gespeel.
Robyn de Groot, ses keer SA bergfietskampioen sal sonder haar spanmaat Sabine Spitz moet klaarkom in die Cape Pioneer Trek.
CrossFit
Atlete se fiksheid, uithouvermoë, stamina en krag is behoorlik op die proef gestel tydens die CrossFit-kampioenskap op Santosstrand.
Die CrossFit was deel van die Mosselbaai Sport- en Rekreasiefees. Van Vrydag, 5 Oktober tot Sondag, 7 Oktober het oud en jonk aan die kampioenskap deelgeneem. Atlete is aan verskeie oefeninge blootgestel om te bepaal wie die sterkste en fikste deelnemer is.
Duisende feesgangers en sportlui het die afgelope naweek (Saterdag, 6 Oktober en Sondag, 7 Oktober) byeenkomste van die 14 sportkodes geniet. Onder die hoogtepunte was die PetroSA-marathon en die Mayoral Cup Rugby in Groot Brak.
Atlete nog vol energie tydens die 2018 Oystercatcher Trail Run.
Sportlui het regoor die dorp, op sowel die Mosselbaai-rolbalbaan, in die branders rondom Santosstrand, op rugbyvelde, die skietbaan, tennisbane, asook die modelvliegtuig-landingstrook gekompeteer.
Foto's: Christo Vermaak, Elaine van der Toorn, Grey Stopforth, Julian Scholtz en Tersia Marais, Chris Hitchcock, ZC Marketing Consulting en Zoon Cronjé.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'