MOSSELBAAI NUUS - Verinda Bosch se naam het al by tye in die Mossel Bay Advertiser verskyn, wanneer sy saam met van die ander vryskutfotograwe in die dorp uithelp as die hande en kamerlense te min raak.
Maar Verinda, wat aanvanklik bloedweining van fotografie af geweet het, spog deesdae met puik foto's.
Daarvan getuig haar onlangse prestasies. Die Advertiser het by haar ingeloer om meer uit te vind.
Waar kom jou liefde vir fotografie vandaan?
In Februarie 2013 het ek by Eden Photographic Society, die plaaslike fotografieklub aangesluit en my eerste DSLR gekoop, 'n Nikon D5200. Ek het absoluut niks van fotografie geweet nie, maar geweet dat ek aan fotografie op kompetisievlak wil deelneem.
Wat neem jy graag af?
Toe ek my eerste kamera gekoop het, het ek na Kolie Visser by Fotofirst gegaan en gevra ek soek 'n kamera. Hy het gevra wat ek wil afneem. Ek het gesê "alles". Hy het vir my so vier lense se pryse neergeskryf en gesê ek moet eers weet wat ek wil afneem voor ek kan koop. Ek het geen idee gehad wat al die millimeters beteken nie, maar ek wou nog steeds alles afneem.
Ek hou van surfers en rubberducks afneem. Ook seëvoels. Verder makrofoto's in my tuin. My tuin is spesifiek vir insekte beplan. My vriende het natuurlik graag model gespeel. Daarna het hulle vriende begin vra vir foto's. Daarna nog en nog. Van fotosessies hou ek die meeste van die klein kindertjies, omdat hulle soos 'n lucky packet is. Onvoorspelbaar.
Vertel 'n bietjie meer van jou prestasies tot dusver?
Ek doen kompetisiefotografie en behoort ook aan die Photographic Society of South Africa (PSSA). Daar word deur PSSA - Nasionale Salonne (kompetisies) aangebied.
Ek het vyf keer die PSSA Impala-trofee vir toppresteerder in die klub gekry. Ek het meer as 600 aanvaardings die afgelope ses jaar gekry. Hiervoor moet jy in 'n salon onder die top 20% wees. Ek het ook presteer in internasionale kompetisies. In Augustus 2018 was een van my foto's deel van 'n paneel van 20 foto's van Suid-Afrika (PSSA) wat aan die biennale deelgeneem het. Jou foto word self gekies vir die inskrywing. Suid-Afrika het 'n bronsmedalje en vierde plek wêreldwyd behaal.
In Oktober 2018 het ek aan die sesde Olympic Photo Circuit deelgeneem. Daar het 70 lande deelgeneem en die beoordeling het in vier verskillende lande plaasgevind. Ek het 16 aanvaardings gekry. In November 2018 het ek agtste gekom in die International Cross Continental Circuit waar 40 lande deelgeneem het en ek het 19 aanvaardings gekry.
Hoogtepunte?
Tot dusver? My honours wat ek by PSSA verwerf het. Honours is soos om 'n graad in fotografie te hê. Dit word agter jou naam geskryf in afkortings en word internasionaal erken. Honours kom in verskillende vlakke. Ek is as 'n "Licenciate of the Photographic Society of South Africa" (LPSSA) verkies. Om 'n LPSSA te verwerf, moet jy 'n paneel van 10 foto's inhandig vir beoordeling. Twaalf top beoordelaars in Suid-Afrika beoordeel jou werk. Nege van die 12 moet jou foto goedkeur voor dit kan slaag.
Ek het drie LPSSA's.
Enige raad vir opkomende fotograwe of die leke?
Ek was ses jaar gelede 'n leek in fotografie. Ek het absoluut niks geweet nie. Ek het by die plaaslike fotografieklub alles geleer wat ek tot dusver weet. Enige persoon wat foto's wil neem en 'n passie het kan by die toppresteerdes uitkom. Mense wat van fotografie wil leer, sluit aan by jou plaaslike klub. En glo in jou foto's.
Een van haar puik foto's wat baie prestasies behaal het.
Ses jaar gelede het Verinda Bosch niks van fotografie af geweet nie. Vandag kry haar werk internasionale erkenning.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'