RUITERBOS NUUS - Nadat hy vroeg in sy loopbaan reeds aan skoolbestuur blootgestel is, het Daniel van Rooyen (35) in 2024 sy plek as skoolhoof van Laerskool Ruiterbos ingeneem.
Voor Van Rooyen die Oos-Kaap vir die Wes-Kaap verruil het, was hy ’n Cradock-kind (nou Nxuba) met die Visrivier in sy are.
“Ek glo my kinderjare was doodnormaal, behalwe dat ons toegang tot die rivier gehad het - van visvang tot met binnebande op die rivier dryf.
“Dit was vir ons niks om met ’n tjoep 5 km plus uit die dorp te stap om weer op die rivier terug te dryf nie,” vertel hy.
Met ’n matrieksertifikaat van Hoër Landbouskool Marlow agter sy naam is Van Rooyen na Wellington se Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie waar hy in 2012 sy graad verwerf het. Die jaar daarna het hy amptelik die onderwys betree.
“Ek het in 2013 my loopbaan by Scheeperskraal SSKV Primêr, op ’n plaas sowat 45 km buite Oudtshoorn, begin. Hierdie klein skool was die beste geleentheid vir ontwikkeling waarvoor ek kon wens. Ek is van vroeg af aan alle aspekte van skoolbestuur blootgestel. My hoof en mentor, Annette Janse van Rensburg, het my die geleentheid gegee om verskeie adminrolle aan te pak wat my deur die jare die ervaring gegee het om eendag die sprong na skoolhoof te kan neem.”
Daardie sprong was toe 11 jaar later, tot by Ruiterbos.
“’n Oomlik wat vir altyd sal uitstaan is die dag toe ek die oproep en brief ontvang het dat ek as skoolhoof aangestel is. Die gevoel om op so ’n redelike jong ouderdom dié geleentheid te kry is onbeskryflik. Dit motiveer my vandag nog om elke dag te probeer verbeter.”
Van Rooyen sê hy was maar nog altyd goed met kinders gewees en ook mal oor sport, twee aspekte wat die onderwys ’n maklike keuse gemaak het. En soos die loopbaanjare aanbeweeg het, het hy al hoe meer in die bestuur van sake belanggestel. “Ek het besef dat dit my werklike passie is. Ek gee steeds voltyds klas, maar die uitdagings van skoolbestuur is wat my aan die gang hou.”
Die Mosselbaai-skoolomgewing is ook vir hom ’n ongelooflike plek om hierdie passie uit te leef. “Nie net werk ek in een van die mooiste dele van die land nie, ek het ook toegang tot merkwaardige skoolhoofde.
“Verhoudings is altyd belangrik, veral as ons na die verskillende kontekste van skole kyk. Dis lekker om by die hoofde van verskeie skoolopsette te kan leer. Ons is ook bevoorreg om ’n kringbestuurder [Rozelle Smith-Neethling] te hê wat werklik uit haar pad gaan om te ondersteun.”
Hy reken die grootste uitdaging in sy huidige posisie sal maar altyd die menslike aspek wees; elkeen verskil en het hul eie siening in die lewe, sê hy.
Binne daardie konteks is respek teenoor mekaar (leerders, personeel, ouers) en kommunikasie, in sy opinie, seker die belangrikste. “Dit is wel nou maklik om te praat. Soms sukkel ek ook maar nog. Gelukkig sien ek daarna uit om ’n positiewe impak op die onderwys te hê.”
’n Kernaspek in sy leierskap, en een wat hy glo by enige skool belangrik is, is goeie waardes. Hy sê opvoeders en skoolhoofde is maar altyd onder die vergrootglas, en om ’n voorbeeld te skep waarna leerders kan kyk en wil volg, is seker die beste waarna enige opvoeder kan streef. “Sodoende word ’n kultuur van goeie waardes onder die leerders geskep. Dit gebeur ongelukkig nie oornag nie. Solank ons net jaar na jaar kan voortbou en ’n positiewe bydrae tot die gemeenskap kan maak.”
Getrou tot sy Visrivier-kinderjare geniet Van Rooyen steeds die buitelewe, en sê hy hy is bevoorreg om op ’n wildsplaas buite Hartenbos te bly.
“Ek probeer gereeld stap of nou en dan bass in die damme in die omgewing te gaan vang. Winters is weer daar om die vrieskas vol te maak ná ’n suksesvolle jag - skiet en jag is ook groot liefdes van my. Ek probeer ook so nou en dan ’n bietjie gholf speel.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’