Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Verlede Saterdag, 1 Junie op Hollywoord-ikoon Marilyn Monroe se verjaarsdag, het Mosselbaaiers, vriende en familie afskeid geneem van 'n beskeie man wat nie te koop geloop het met sy agtergrond en prestasies nie.
Maar 'n vinnige kykie deur enkele van Pieter Viljoen se persoonlike dokumente, toon 'n gans ander prentjie van dié stil gastehuiseienaar en erfeniskenner wat op 24 Mei oorlede is.
Pieter is op 8 Mei 1940 gebore en word groot in Bloemfontein. Hy is 'n nasaat van die bekende kerkleier Andrew Murray, wie se seun William, Pieter se oupagrootjie was.
Sy skoolloopbaan voltooi hy aan die gesogte Grey Kollege, maar akademie en sport was nie waarin hy geskitter het nie. As 'n ywerige lid van die Voortrekkers, verdien hy desjare al 'n spesiale kenteken vir sy kookkuns en vernuf om lekkers te kon maak.
Pieter, die oudste van drie kinders, het ook 'n ander vernuf gehad waarin hy hom behoorlik uitgeleef het. Sy ouers was die stigters van die Bloemfonteinse Teatergroep. Plakboeke verklap dat Pieter 'n bekwame akteur was en gereeld in koerante daarvoor geloof is.
Sy ma, Susie Mey Viljoen, 'n knap skrywer en regisseuse, het self ook haar staal op die verhoog gewys, soos blyk uit talle koerantuitknipsels. Pieter het ook aan ander amateurdramagroepe behoort en was sy lewe lank besonder lief vir die teater.
Vloot en die vreemde
Sy diensplig doen hy in die vloot en gaan swot daarna aan die Universiteit van die Vrystaat. Maar dis sy liefde vir mense en die hotelwese wat hom trek. Destyds was daar nie 'n hotelskool in Suid-Afrika nie en is spyseniers slegs deur die Spoorweë opgelei of by individuele hotelle.
Met 'n tikkie meer moed as wysheid, gaan klop Pieter aan by die beste hotel in Suid-Afrika, die Carlton Hotel in Johannesburg. Slegs ses leerlinge is jaarliks daar aanvaar en boonop was dit twee jaar vooruitbespreek. Tydens Pieter se onderhoud met die imposante Dino Tomassini, was hy oortuigend genoeg om twee weke later daar met sy opleiding te kon begin.
Na twee jaar se bloedsweet, het Pieter sy merk gemaak. Tomassini was 'n oud-student van die École hôtelière de Lausanne in Switserland, 'n hotelskool wat vandag nog as die beste ter wêreld gereken word. Hy het sy invloed gebruik om Pieter daar in te kry as student, maar die waglys was amper drie jaar. Danksy kontakte in FEDHASA, kry Pieter werk by die vernaamste hotel in Skandinawië, die SAS Royal in Kopenhagen en 'n vliegkaartjie op afslag na Luxemburg.
Pieter studeer vier jaar en verwerf die gesogte École Hôtelière de la Societé Suisse des Hôtelières. Hy werk daarna in befaamde kombuise in Geneve, Zurich, Amsterdam en Londen. Intussen, terwyl sy leergierigheid en strewe na uitnemendheid in sy bedryf by uitstek gestimuleer word, doen Pieter modelwerk en pryk hy in die jongste modes in Italiaanse glanskatalogusse. Hy koop 'n BMW-motorfiets en reis deur Europa, tot sy pad, motorfiets en al nog voor sy 30ste verjaarsdag teruglei na Suid-Afrika, waar 'n klomp nuwe avonture op hom wag.
Terug tuis
Terug in Suid-Afrika, het Pieter hom met oorgawe in die gasvryheidsbedryf begeef. Hy begin werk by die nommer een vyfster-hotel, die Edward Hotel in Durban en help om die Blue Waters Hotel op die been te bring. As bestuurder onderskei hy hom in bestuursposte by die Waldorf Hotel, Carlton Hotel en die Landdrost Hotel.
Intussen is hy gedurende sy dertigerjare steeds in advertensies in die gedrukte media te siene as model.In 1980 word hy ‘n pos by die Hotelskool in Braamfontein aangebied en werk later as senior lektor in restaurantstudies, met wyn as ‘n spesialiteitsrigting.
Hier kon hy sy liefde vir die hotelbedryf en juis die fyner aspekte van beskaafd lewe, aan ‘n veel jonger geslag oordra. Sy invloed in sy studente se lewens, blyk veral uit die kommentaar op sosiale media wat ná Pieter se dood gelewer is.
(*Lees van die kommentaar onderaan die artikel).
Legendaries
Pieter se liefde vir wyn was legendaries. Hy het etlike vakansies opgeoffer om studente te begelei op studietoere na die wynlande om Suid-Afrika se kampioenwynmakers te ontmoet.
Tydens hierdie wyntoere het studente hulle eie druiwe gepluk en getrap wat dan uiteindelik gebottel is om die toer te gedenk.
Ter herdenking van hulle geliefde lektor se nalatenskap, het oud-studente foto’s van hierdie unieke bottels wyn op sosiale media gedeel.Pieter se liefde vir goeie kos en wyn, is moontlik aan hom oorgedra deur sy ouers, wat beide lief was daarvoor om puik kos voor te sit.
Boonop het sy oom en peetpa saam met die digter, skrywer en koskenner dr Louis Leipoldt en ander, ‘n fynproewersgroep gevorm. Hierdie einste oom van Pieter, Markus Viljoen, was destyds redakteur van die Huisgenoot en het saam met Pieter se ma en ook sy pa, bygedra tot die drukkersink is sy are. Beide sy ouers het gereeld geskryf, van artikels tot toneelstukke, en van sy ma se boeke is ook in Engeland en Kanada geplubliseer.
Bekroonde resensent
Te danke aan sy skrywersbloed, word Pieter ‘n bekroonde restaurantkritikus vir Beeld. In die jare 80, word hy deur die SA Vereniging vir hoofkokke as die beste resensent benoem. Hy skryf onder die skuilnaam, Per Alleman. ‘n Ooblyfsel van hierdie naam word later gebruik om sy gastehuis in Montagustraat, Mosselbaai Allemans Dorpshuis te noem.
Pieter skryf in van sy persoonlike dokumente só oor sy rubriek “hy wil die Afrikaner opvoed op ‘n subtiele manier sodat ‘n Afrikaanse van op ‘n besprekingslys nie outomaties ‘n swak tafel beteken nie”.Pieter het na sy vestiging op Mosselbaai, gereeld interessante artikels geskryf ter verduideliking van ou foto’s van die dorp. Hierdie bydraes is in die Mossel Bay Advertiser geplaas tussen 2011-2013.
Die Mossel Bay Advertiser berig só oor sommige van Pieter se bedrywighede in 2011.
Jonk en onbesorgd.Bekendes onthou
Pieter het deur die loop van sy lewe talle bekendes ontmoet en geken. Een van sy boesemvriende, is die Suid-Afrikaanse akteur Gavin van den Bergh. Gavin het die volgende kommentaar oor Pieter in ‘n WhatsApp-boodskap voor sy gedenkdiens gedeel:
“Ons het die lang plat gereis. Cortina-bakkie met canopy en tent. Pieter was deel van die begin van my loopbaan. Eers saam oudisies toe vir verskeie modeleergeleenthede wat my deur my 4 jaar universiteit laat loop het en toe oorsee ook. En my, toe ek sonder veel selfvertroue, twee professionele TV hoofrolle en ‘n Pieter Toerien-verhoogproduksie, beide teenoor Sandra Prinsloo kry, bygestaan en bemoedig. Sy byna geniael kennis van klassieke werke, literêr en veral musiek was ‘n inspirasie en ‘n openbaring. ‘n Passie wat vir die res van my lewe sal bybly. Ook die lojaalste mens wat ek ken. Dankie Pieter vir die koers wat jy aan my lewe gegee het. Sonder jou sou ek nie wees waar ek vandag is nie. Tydens u diens môre in Dias gaan ek nie ‘n sentimentele Beethoven, Chopin of Schubert speel nie, maar ‘n avontuurlustige, vreeslose, verlossende – PAGANINI!”
Oud-studente se kommentaar
“He was an absolute Hotel School legend! Conting all the silver after restaurant duty and looking for that one lost spoon in the waste bin.”
“What a remarkable man and lecturer…his passion for hospitality and meticulous attention fo details got me hooked on the industry. I’ll never forget the wine tours he led or the amount of effort he put into everything he did.”
“Some lecturers transcend all memories. RIP knowing a properly polished glass shall be raised in the appropriate manner of a vintage worthy of the fleeting but unforgettable impressions you have left on our many colletive lives. Salut!”
“There are teachers who change the course of your destiny and I could never have imagined the influence that Mr Viljoen would have on my career – he sparked my passion for wine and taught me power of attention to detail, dignity in service and pride in the classic at of hospitality.”
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'