MOSSELBAAI NUUS - Hy het sy lewe opgeoffer vir sy werk, sê almal wat Gert Christie, algemene streeksekretaris van TALFU (Trawler and Line Fishermen's Union), geken het.
Gert (54) is op Sondag, 12 Januarie in die Mosselbaai provinsiale hospitaal oorlede na 'n beroerte.
Sy vrou, Theresa sê dat dit sy derde beroerte gedurende die afgelope jaar of wat was.
"Ek was so hoopvol. Hy het na die tweede beroerte so mooi herstel dat hy mý tydens siekte kon bystaan." Die paartjie was 25 jaar getroud en verjaar net 'n dag uit mekaar in Meimaand.
Oorspronklik van Upington, vertel Theresa het Gert "hier aangekom met 'n tjokka-boot".
"Hy het saans op die boot geslaap wanneer hulle in die hawe was, want hy het niemand geken nie. My broer het hom oor Gert ontferm en hom na ons huis toe gebring en dis hoe ons ontmoet het," onthou sy.
Gert het later by die destydse I&J ingeskakel, waar hy hom opgewerk het tot 'n baie verantwoordelik pos. Hier het sy pad met TALFU begin. Boonop was hy so aktief betrokke by sake rakende die belange van die vissersgemeenskap, dat hy baie moes reis en sy gesin later na Kaapstad moes verhuis.
"Die goed wat die meeste van belang vir hom was, was die vissersgemeenskap en wette wat hulle raak. Hy was 'n stigterslid van die bargaining council in die laat jare negentig," sê sy seun Reagan trots.
"Christie het sy lewe afgelê vir sy werk. Dit was sy alles," voeg Jerome van Aswegen, sy swaer by.
Theresa sê dat haar oorlede man vertroue ingeboesem het by sy werkgewers en veral in die gemeenskap. "Hy sou veg vir enigiemand se regte wat in hulle werk byvoorbeeld te na gekom is, al was dit nie eens sy veld nie."
In 'n facebook-inskrywing, beskryf Dexter Brinkhuis Gert Christie soos volg: "Gert Christie onverskrokke vegter vir die regte van seemanne, jy het diep spore kom trap met jou stryd teen ongeregtigheid teenoor seemanne, veral die visser gemeenskappe en hul families. Jy het nooit gehuiwer om te help of gekla wanneer mense jou drumpel deurtrap het, op soek na advies en hulp. Jou bydrae tot die verbetering van mense se lewens sal NOOIT vergeet word nie."
Gert word op Saterdag, 25 Januarie om 09:30 vanuit die AGS D'Almeida in Alhof-rylaan, begrawe.
Hy laat sy vrou, drie seuns en vier kleinkinders agter.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'