MOSSELBAAI NUUS - Met die Desembervakansie nou iets van die verlede, is daar vir seker talle wat met heimweë terugdink aan die luilekker dae op die strand. Dalk is daar sommige wat selfs dagboek van hulle wedervaringe gehou het.
Gerrie van der Walt (88) van Bloemfontein, het aan die einde van 2021 tydens 'n nostalgiese reis na Mosselbaai, 'n afskrif van sy oorlede vrou, Nellie se reisjoernaal uit Desember 1945 by die Mossel Bay Advertiser afgelaai.
Die herinneringe het hulle oorsprong uit 'n vakansie wat Nellie saam met haar gesin onderneem het toe sy maar nege jaar oud was.
Gerrie se hoop was dat dit êrens dalk gepubliseer sou kon word.
Nellie is in Julie 2021 op 85-jarige ouderdom oorlede. Die egpaar was 64 jaar getroud.
"Ek het kom groet en op al ons ou spore teruggegaan," het Gerrie vandeesweek telefonies aan die Advertiser gesê. Die Van der Walts was jarelank boere op Vryburg en het toe later op Bloemfontein gaan aftree. Gesinsvakansies is egter gereeld op Hartenbos gehou.
Die Mosselbaai wat Nellie egter ter herinnering roep, beskryf sy as 'n "klein dorpie, baie klipgeboue en klein Victoriaanse huise teen die skuinstes".
"Soos ek kan onthou was dit nog 'woes en leeg' regoor Hartenbos. Ek kan net bosse onthou met die blou see wat van die pad af sigbaar was. Diasstrand en Bayview en al die ander uitbreidings was seker nog nie eens in iemand se gedagte nie," skryf sy.
LEES MEER: See-toe... Desember 1945
Volgens Gerrie het Nellie hierdie paar herinneringe neergepen sowat 10 jaar gelede. Sy skryf in die aanhef van haar storie dat sy dit herontdek het in 'n "verslete, klein, swart notaboekie". Hierin vertel sy van die hele uitputtende reis vanaf die Ghaapseberg in die Noord-Kaap tot in Mosselbaai.
Gerrie geniet nog goeie gesondheid.
"Ek bly op my eie en ek bestuur nog self."
Hyself het 'n paar boeke geskryf wat veral handel oor die geskiedenis, by name die Anglo-Boereoorlog. Nellie het graag kinderverhale geskryf, maar wou dit nooit laat publiseer nie.
"Ek het egter een onderskep en laat druk. Dit gaan oor 'n ringnek duif en sy avonture. Pragtige kinderverhaal."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'