MOSSELBAAI NUUS - Verskeie vakansiegangers het die afgelope Desember deurgeloop onder bedrog met sogenaamde vakansieverhurings. Die Da Gamaskop-polisiestasie ondersoek reeds twee sake van bedrog nadat vakansiegangers ingedoen is. Nog sake is by die polisie op Groot-Brakrivier aanhangig gemaak.
In die eerste voorval is 'n saak van internetbedrog gemaak. Polisiewoordvoerder, kapt Wollie Fourie sê die slagoffer en sy gesin is van Brits afkomstig en het vanaf Januarie vanjaar tot onlangs 'n sekere bedrag in 'n verdagte vrou se rekening betaal.
"Die verdagte woon op Mosselbaai en het die vakansie-akkommodasie op die internet geadverteer. Die slagoffer het geld betaal om by die sogenaamde vakansiewoonstelle by Diasstrand vakansie te hou. Met hulle aankoms het hulle uitgevind die woonstel is reeds uitverhuur en dat hulle nie plek het om te bly nie."
Volgens Fourie het die slagoffers meer as R17 800 vir die vakansie-akkomodasie betaal. "Die verdagte woon in die area en dit blyk dat dit 'n tendens van haar is om by sulke slenters betrokke te raak."
Fourie sê in die tweede voorval het die slagoffers wat van Worcester afkomstig is vanaf 30 September tot 23 Desember geld via die internet aan die verdagte betaal.
"Hulle het op 'n webwerf gesien dat die vakansiewoning op Hartenbos geadverteer word en het geld in 'n rekening betaal. Met hulle aankoms hier kon hulle egter geen so 'n adres of woning op Hartenbos vind nie."
Die polisie ondersoek twee sake van bedrog. Geen sake is by die Mosselbaai-polisiestasie gemaak nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'