MOSSELBAAI NUUS - Lluyle Arendse (26), 'n jongman van Groot-Brakrivier is vir sy boek Unspoken, benoem as Jong Skrywer van die Jaar deur die Departement van Kuns en Kultuur in die Wes-Kaap. Lluyle is ook die E-sentrum-bestuurder by die Groot-Brakrivier Jeugkafee.
Hy beskryf die boek as 'n versameling van interpersoonlike kwessies wat hy deur sosialisering tydens sy grootwordjare ervaar het.
Hy hoop die boek inspireer ander jongmense om introspeksie te doen en om uit die kettings van die "klein dorpie-sindroom" te breek.
Die temas en stories in die boek is 'n interpretasie van gebeure wat hy in sy gemeenskap ervaar het.
"Ek wil hê die boek moet dien as 'n riglyn vir jongmense sodat hulle nie voel hulle is alleen nie en dat hulle hul omstandighede tot voordeel moet gebruik. Wil jy bly in die omstandighede waarin jy grootgeword het of wil jy dit verbeter?"
Hy sê: "Elke generasie het 'n ander manier om kwessies te hanteer en dit is nie regverdig teenoor die hedendaagse jeug om te verwag dat ons soos vorige generasies moet optree nie. Een van my gedigte genaamd June 16, gaan oor ons struggle. In retrospeksie, moet ons jongmense besef ons is nie net hier geplaas en moet dit so aanvaar nie. Ons moet baklei om uit die omstandighede te kom". Lluyle was onlangs in Johannesburg by 'n besigheidsopleidingsessie waar jongmense van oor die land heen met nuwe konsepte na vore gekom het hoe om die jeug aan te moedig om uit hul omstandighede te styg en om te floreer.
"Ons fokus is om jongmense in Suid-Afrika te bemagtig en Suid-Afrika sodoende 'n beter plek te maak."
Lluyle vertel dat hy sy gedigte kort hou, maar dat die inhoud groot impak het. "Ons wil jongmense inspireer deur die digkuns maar omdat hulle nie regtig meer boeke lees nie, moes ek my boek aanpas om hul aandag te behou. Ouer mense vind ook baat uit die boek en hulle verkies weer om iets in boekvorm te lees."
Unspoken kos R300 per eksemplaar en kan direk by Lluyle gekoop word (061 261 3570).
Lluyle Arendse se boek Unspoken wat temas bevat wat 'n interpretasie is van gebeure soos hy dit tydens sy grootwordjare in die Groot-Brakrivier gemeenskap ervaar het.
Lluyle Arendse (26) is benoem as "Jong Skrywer van die Jaar" deur die Wes-Kaapse Departe-ment van Kuns en Kultuursake.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'