MOSSELBAAI NUUS - Op Mosselbaai, is die plaaslike regering se strewe nie net daarna om die dorp en omgewing gesinsvriendelik te maak nie, maar ook om die 'Veilige Stad'-beginsels van onder meer universele toeganklikheid vir individue met spesiale behoeftes en/of uitdagings te vestig en uit te bou.
Hierdie beginsels word tans goed geïnkorporeer in die gesamentlike beheersentrum wat by die Mosselbaai-gholfbaan vorm aanneem.
In hierdie sentrum sal verteenwoordigers van al die verskillende dissiplines binne gemeenskapsveiligheid saamwerk om veiligheidsoperasies te verbeter.
Die sentrum voorsien dat persone met mobiliteitsuitdagings by die gesamentlike beheersentrum vir baie van die gemeenskapsveiligheidsmonitering en ander funksies aangewend sal word.
Verteenwoordigers van die gemeenskap met spesiale behoeftes het die toeganklikheid en ander potensiële werksplekuitdagings by die nuwe beheersentrum onder die loep geneem.
Dit sluit in sakeman Jacques Mostert wie se regterbeen geamputeer moes word in 2019, na 'n ernstige motorfietsongeluk.
Die portefeuljevoorsitter vir gemeenskapsveiligheid, raadslid Leon van Dyk, was tevrede met die groep se terugvoering en voorstelle. Spesialiste, wat sal help met die keurings- en toetsprosesse van kandidate, veral vir CCTV-monitering, is ook besoek.
Werksaamhede by die sentrum sal in fases geïmplimenteer word, met die opening van die eerste fase wat in Februarie beplan word.
Jacques Mostert (agter) en ander besigtig die fasiliteite.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'