MOSSELBAAI NUUS - Lede van die gemeenskap het hulself tot sosiale mediaplatforms gewend die afgelope week om hulle frustrasie uit te spreek daaroor dat nie almal die regulasies aangaande die 21 dae van nasionale inperking ewe nougeset gehoorsaam nie.
Samuel Kleinsmith van die Mossel Bay Youth and Community Development Action Group het 'n vurige beroep gedoen op die jeugdiges om die regulasies tydens die inperking te gehoorsaam.
"Almal ken my as Uncle Sam en ek vra dat al die jongmense sal luister na die regering, die munisipaliteit en al die mense wat van beter weet, ook hulle ouers. Ons smeek julle, wees gehoorsaam dat ons hierdie dodelike virus kan stop."
Kleinsmith het berig dat in die omgewing waar hy 'n oog kan hou, dit blyk of die gemeenskap van Tarka, Uitbreiding 6 en Lakie hulle wel na die omstandighede skik. "Ek het nie 'n permit om rond te beweeg nie, maar as ek 'n luidspreker kan kry, sal ek beslis die boodskap duidelik verkondig dat mense, veral jongmense die reëls moet gehoorsaam en nie moet ronddwaal nie."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'