Update
MOSSELBAAI NUUS - Dis moeilik om aan kolonel Una Saayman te dink as 'n afgetredene.
Hierdie op en wakker vrou beëindig op 31 Maart haar 37 jaar lange loopbaan in die Suid-Afrikaanse Polisiediens.
Van aanvanklik 'n aspirant-onderwyseres, verlaat sy die kantore van die Da Gamaskop-polisiesone hierdie week in die pos van waarnemende bevelvoerder met 11 polisiestasies vanaf Swellendam tot in Groot-Brakrivier waarna sy tydens haar dienstydperk moes omsien.
Sy het op 18 Maart 58 jaar oud geword.
'n Ander koers
Kolonel Una het in Mosselbaai grootgeword en matrikuleer aan Hoërskool Sao Bras. Haar geliefde en offervaardige eggenoot van 35 jaar, John wat 'n reusebydrae tot haar loopbaan gelewer het, was haar hoërskoolliefde.
"Ek wou nog altyd 'n onderwyseres geword het," vertel sy vanuit haar reeds half opgeruimde kantoor vandeesweek. In Januarie 1981 is sy na die Onderwyskollge in Belville. "Ek het moeilike tye gehad, soos tye wat 'n mens nie geld het vir seep om jou te was nie - sulke goedjies."
Haar biologiese moeder is oorlede toe sy 'n baba was. Destyds het kol Una se stiefma nie gedink dit is 'n goeie idee om haar uit Mosselbaai te laat gaan vir 'n leerdery nie. Kolonel Una se broer, 'n polisielid het aanvanklik vir haar onderwysstudies betaal.
Toe die geld knyp ses maande later, stel hy voor dat sy by die polisiediens aansoek doen wat toe hulle eerste inname van bruin vroue gehad het.
"Ek het gesê 'nee jong, netnou onthou daai poliesmanne my - ek het dan nou die dag nog klip gegooi saam met die mense'," vertel sy laggend. Maar die feit dat sy tydens haar opleiding ook 'n klein salaris sou verdien, het die deurslag gegee.
"Ons was 18 meisies. Die ander was almal Kapenaars en hulle praat net Engels. En hier kom die plaasmeisie. Ek kon darem Engels in die klas praat as ek my opstel moes opsê, maar ek het nie veel hoop vir myself gehad nie."
Haar twyfel ten spyt, begin haar opleiding in Bishop Lavis in 1981. "Daai tyd was daar geen vroue wat opleiding gegee het nie. Dit was net mans. Daardie ses maande was ons onder die mans deur. Dit was baie tough. Daai mense was knaend. Hulle het ons laat verstaan ons is nie hier vir 'n show nie."
Later het die hoofde egter gesien, die meisies raak nou té tough.
"Hulle stuur toe 'n sers Liebenberg om vir ons 'n bietjie vroulike kante ook te bring. En ons was ook by Mrs Weinrich, 'n statige vrou wat darem vir ons geleer het hoe om te stap en ons baadjies toe te knoop - from the bottom to the top."
Polisiejare
Vanweë haar fiksheid, wou die opleidingkollege kol Una laat aanbly om te help met die opleiding. "Maar ek verlang toe na my kêrel. Ek wou by die huis kom."
Aangesien Mosselbaai nie plek vir haar gehad het nie, was die naaste polisiestasie Oudtshoorn waar sy haar loopbaan in Desember 1981 begin het.
So klim sy toe af by Bridgton-stasie. "Bridgton-polisiestasie in die bruin woongebied, is die enigste stasie waar hulle 'n bruin vrou destyds kon akkommodeer."
In 1983 toe sy trou, kon sy huis toe kom. Sy skakel in by die Da Gamaskop-polisiestasie en werk op die skofte. Tydens haar swangerskap werk sy in die adminstratiewe afdeling en later in menslike hulpbronne. Toe die geleentheid hom voordoen dat sy weer by skofwerk kan inskakel, gryp sy dit aan.
In die jare 2000, werk sy as waarnemende bevelvoerder by verskeie polisiestasies onder meer KwaNonqaba, Albertinia, Groot-Brakrivier, Mosselbaai en Da Gamaskop. Sy word stasiebevelvoerder op Riversdal in 2009 en in 2011 op Grabouw.
In 2015, besluit sy dat sy nou lank genoeg weg van die huis af was. "My man het altyd vir my gesê - 'onthou, jy't nou ja gesê vir daardie gemeenskap, jy kan nie op Mosselbaai wees as hulle jou daar nodig het nie' - hy het baie opofferings gemaak."
Sy bedank. "My papiertjies was al in, toe die generaal vir my sê van 'n pos by die Da Gamaskop-sonekantoor op Mosselbaai." In 2016 kry sy die pos as visuele polisiëringskoördineerder.
Hier aangeland, word 'n nuwe pos geskep - dié van adjunk-sonebevelvoerder en só maak kol Una weer geskiedenis deur die eerste persoon, boonop vrou te wees wat hierdie posisie vul.
Sport
"Toe die kinders van die hande af is, het ons begin draf - net vir ontspanning."
Vanjaar maak hulle reg vir die 16de Comrades. Sy het nog altyd onder 11 uur dié wedloop voltooi. Haar lekkerste Comrades, onthou sy, was die keer toe sy haar pa, wat lank by haar aan huis gebly het, se raad gevolg het.
"Ek gaan vertel ewe braggerig vir hom dat ek 89km gaan hardloop en hy antwoord - 'dis niks, mens moet net weet hoe om asem te haal'. Daar in Polly Shortts is ek moeg en ek dink onmiddellik aan wat Pappa gesê het en ek begin asemhaal."
Haar pa is op 93 oorlede.
Groetwoord
Aan die gemeenskap, ter afsluiting, sê kolonel Una: "Niks in die lewe is verniet nie. Absoluut niks." Sy glo daarin dat 'n mens te alle tye dinge moet doen met die regte gesindheid.
"God is a rewarder. Wees aan niemand iets verskuldig nie. Wees goed vir mense, wees lief vir mense, maar moenie dat mense jou hostage hou nie. As jy iets doen, doen dit met oorgawe, nie omdat jy dit aan iemand verskuldig is nie."
Aan vroue wat 'n beroep volg in 'n wêreld waar mans meer dominant is, soos in die polisie, gee sy die volgende raad.
"Maak seker jy weet wat van jou verwag word in jou werk. Equip youself. As mense weet jou kennis is gebrekkig, gaan hulle jou vanselfsprekend aan die neus rondlei. Glo in jouself, weet wie jy is. Vertrou jouself en neem standpunt in."
Sy sien uit daarna om in die dae wat kom, sonder 'n agenda op te staan. "Ek sien uit na rustigheid en 'n foon wat nie heeltyd moet aan wees nie. Jy weet, my man is so lojaal, hy vra altyd 'het jy jou foon aan jou? Jy kan nie dat die polisie jou soek nie'."
Sy glo dat alles wat sy is en bereik het, sy aan God verskuldig is. Haar man is die grootste geskenk. "John is daai tipe maat wat alles vir sy gesin sal gee. Hy sal in 'n paar plakkies loop sodat ek in high heels kan loop."
Sy sal dit mis, sê sy, om mense te bemoedig.
"Jy weet, in onse werk kan 'n mens maklik die stok laat val omdat jy mismoedig raak. Ek gaan dit mis om vir mense te sê - 'nee, man hou aan, dit ís die moeite werd'."
Kolonel Una het twee kinders en is die trotse ouma van drie kleinseuns.
Só sal baie kolonel Una Saayman onthou - besig met 'n inspirerende praatjie.
Altyd stylvol - in en uit haar uniform. Kolonel Una Saayman tydens haar afskeid hierdie week saam met Martie Phillipson van die Da Gamaskop-polisiestasie.
Só sal baie kolonel Una Saayman onthou - besig met 'n inspirerende praatjie.
Lees 'n vorige artikel hier: Bevelvoerder tree uit diens
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'