MOSSELBAAI NUUS - Die verhaal van vroeggebore tweelingbabas wat op 28 Desember deur middel van 'n noodkeisersnee gebore is nadat hulle ma Covid-19 opgedoen het, het Mosselbaaiers so aangegryp, dat dit sedert verlede week soos 'n veldbrand op sosiale media versprei het.
Die tweeling, Reece en Riley is sedert Maandag, 11 Januarie in hulle ouma, Rosemarie Plaatjies van Ankerstraat, D'Almeida se sorg.
Hulle weeg tans 1,8kg en is volgens hulle ouma gesond. Hulle ma, Rozaan (Gelderbloem) November (37) is Saterdag, 9 Januarie aan Covid-19 verwante oorsake in die hospitaal oorlede.
'n Kalm Rosemarie het vandeesweek aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat sy nog 'n laaste konneksie met haar dogter tydens haar sterwensoomblik ervaar het. "Ek was in die tuin en het so 'n pyn op my hart gekry. Omdat ek al voorheen hartaanvalle gehad het, het ek gedink dis weer dit. Maar toe bel die dokter my en sê dat Rozaan se hart gaan staan het."
Volgens Rosemarie het Rozaan 'n dag na haar pa, 'n kerkleier se begrafnis op 26 Desember, in kraam gegaan. Hulle was glo baie na aan mekaar en hy het haar op 7 November in Mosselbaai in die huwelik bevestig.
"Sy is op 27 Desember hospitaal toe en het 2-3 dae later laat weet dat sy met Covid-19 gediagnoseer is. Rozaan was reeds tydens haar swangerskap, 'n hoë risiko geval," verduidelik Rosemarie. Toe Rozaan se toestand nadat sy na die George provinsiale hospitaal geskuif is verswak, is die noodkeisersnee uitgevoer. Die tweeling sou eers in Februarie gebore word.
Konneksie
"Ek het hulle Maandag self op George gaan haal. Ons het daardie konneksie gevorm toe hulle die kangaroo-tegniek op my gedoen het. Ek het 'n baba teen elke bors gedra. Nou laat ek vir eers nie mense uit die gemeenskap by hulle kom nie."
Uit die aard van die saak is daar baie behoeftes, maar Rosemarie sê sy het haar trots. "Ons het dit nie breed nie, maar elkeen het sy trots. Ons het vir niks gevra nie. Wat mense wil gee, moet hulle gee soos die Here dit hulle op die hart lê."
Hoewel hulle dankbaar is teenoor lede van die gemeenskap wat inisiatief geneem het, meen Rosemarie dat van die inskrywings op sosiale media sonder oorlegpleging met die familie geplaas is. "Van die goed het ons seergemaak en ons wil graag vra dat mense eerder direk met ons kontak maak as hulle ons en die tweeling wil help."
Van die inisiatiewe wat intussen van stapel gestuur is sluit in dagsorg by 'n plaaslike kleuterskool en die insameling van skenkings soos doeke en ander benodigdhede wat ook deur dieselfde skool gedoen word.
Enige persoon wat graag tot einde Januarie deur middel van die Mossel Bay Advertiser se Oliver Twist-projek na Reece en Riley wil uitreik, kan kontak maak met Susan Graaff vir meer besonderhede (044 690 7156).
Die tweeling is tans in hulle ouma se sorg. Hier is die verwelkomingsplakkaat met hulle tuiskoms vandeesweek.
Wyle Rozaan (Gelderbloem) November.
Reece en Riley is gesond en tans tuis in Ankerstraat.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'