OPINIE - Op skool is ons geleer om hard te leer sodat ons met diplomas beloon kan word.
Ons het almal daarna gestreef om as een van die bestes erken te word. Dit was wel ’n goeie inisiatief om motivering te bevorder, maar tog was die konsep baie misleidend.
Dit het ons laat glo dat as jy toekennings ontvang, jy altyd suksesvol sal wees en nooit sal faal nie. Dis een van die redes hoekom ’n eerstejaarstudent wat altyd diplomas op skool gekry het, op universiteit opskop.
In dieselfde asem, ’n kunstenaar se toekennings maak nie van hom/haar ’n goeie kunstenaar nie. Hoeveel goeie kunstenaars ken jy wat min tot geen toekennings ontvang het? Hoeveel kunstenaars ken jy wat niemand eers weet bestaan nie?
Ja, ek weet dit klink baie hipokrities omdat dit kom van my af. Februarie vanjaar is ek as een van die 100 South African Shining Stars 2025 aangewys. Ek het verlede jaar die toekenning vir jong en innoverende kunstenaar by die Wes-Kaapse departement van kuns en kultuur ontvang. Juis omdat ek die ervaring het, kan ek eerstehands die kennis versprei om jong kunstenaars te laat verstaan dat jou waardigheid nie aan toekennings geheg word nie.
Ek besef ek was ook in ’n stadium ’n skaam kunstenaar wat nie sy kuns met die wêreld wou deel nie.
Sosiale standaarde vir kunstenaars kom deur sosialemediainvloede; hulle sê jy moet aantreklik wees en jy moet ’n goeie selfbeeld hê om van jou die beste te maak. Dit is nie noodwendig die geval nie.
Elke kunstenaar is anders, en dis wat hulle kunste waardig maak. Inteendeel, ons almal is kunstenaars wat ons kunste wil uitstal op die platform genaamd ‘die lewe’.
Disclaimer: The opinions expressed in this article are those of the author. They do not purport to reflect the opinions or views of Group Editors and its publications.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’