MOSSELBAAI NUUS - Die Da Gamaskop-polisie het 'n goeie arrestasie gemaak na aanleiding van 'n huisroof wat in die vroeë oggendure op Saterdag, 16 Junie plaasgevind het.
Volgens inligting het 'n vrou van die Twee Kuilen-uitbreiding in Diasstrand omstreeks 06:30 wakkergeword en gesien dat 'n onbekende man in haar kamer staan.
Hy het haar aangerand en probeer verkrag. Die man het haar gewurg en sy het in die proses glo haar bewussyn verloor.
Toe sy bykom, was die man reeds weg met dit wat hy uit haar huis gebuit het. Die vrou het daarin geslaag om die sekuriteitswag by haar woonkompleks van die insident te vertel waarna die polisie na die misdaadtoneel ontbied is.
Later op dieselfde dag is 'n 21-jarige man van Aslapark in verband met die voorval in hegtenis geneem. Hy kon nie dadelik direk met die misdaadtoneel verbind word nie, maar goeie ondersoekwerk het aangedui dat hy wel met die huisroof verbind kan word.
Volgens inligting het die verdagte so onlangs soos twee weke gelede uit die gevangenis gekom.
Hy is deur kst Ayabonga Lolo en ao Marizaan du Plesiss, wat ook die ondersoekbeampte in die saak is, in hegtenis geneem.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'