MOSSELBAAI NUUS - Ouderdom is net ’n nommer, en twee plaaslike Mosselbaaiers het dié gesegde dié week behoorlik bewys toe hulle letterlik die sprong van hul lewe geneem het.
Petro Hurter (76) van Mosselbaai en Adine Kirsten (73) van Fraaiuitsig het op Vrydag 10 April saam ’n dapper besluit uitgevoer, om valskerm te spring. Hulle het by die vliegveld in Aalwyndal die sprong uitgevoer.
Die twee vroue het mekaar eers onlangs by ’n kerkkamp ontmoet, maar dit het nie lank geneem voordat daar ’n besondere vriendskap gevorm het nie.
Wat begin het as ’n ligte grappie oor ’n “bucket list”-droom, het vinnig in ’n werklikheid ontaard.
Volgens Hurter se familie is sy nog altyd bekend as “Ouma Pietie”, ’n energieke en avontuurlustige ouma wat nooit terugdeins vir ’n uitdaging nie.
Haar liefde vir mense en haar gewilligheid om nuwe dinge aan te pak, het haar nog altyd onderskei, het 'n familielid, Anneke Hatting aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
“Geen uitdaging is vir haar te groot nie, sy is nie bang om iets nuut te probeer nie, maar hierdie was beslis die kersie op die koek.”
In haar eie woorde beskryf Hurter die ervaring as ’n spontane, maar betekenisvolle besluit.
“Daar is baie dinge wat ’n mens soms deeglik deurdink en ander wat jy sommer hals oor kop aanpak, en hierdie was beslis een van daardie hals-oor-kop-besluite … of dalk sommer ’n loskop-plan!”
Hurter sê sy het ongeveer twee jaar gelede begin spot oor die moontlikheid van valskerm-spring, maar dit was eers nadat haar seun dit self gedoen het, dat dit ’n ware ‘bucket list’-item geword het.
“Drie weke gelede het ons ’n kerkkamp bygewoon en weer het ek die idee van spring ter sprake gebring.
Almal het saam gelag, maar Adine het onmiddellik gesê sy sal saam spring.
Adine Kirsten (73) en Petro Hurter (76).
Ons het mekaar eers daar ontmoet en tog, soos ou vriende, het ons saam deurgedruk en dit het sowaar ’n werklikheid geword.”
Hurter sê sy glo jy moet doen wat jy graag wil doen, voor dit te laat is.
Kirsten sê die ervaring was vir haar baie lekker en opwindend.
“Dit is Petro wat my inspireer het en ek is baie bly want andersins sou ek dit nooit gedoen het nie.
Dit was 'n benoude oomblik om uit te spring, wanneer jy jou voete moet uitsteek en die ou verdwyn agter jou, maar dit was net 'n ander wereld en dit is mooi daar van bo af.”
Die twee bedank Skydive Mossel Bay se instrukteurs wat hulle kalm gehou het en met bekwame hande bygestaan het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’