MOSSELBAAI NUUS - Met die seetoestande wat baie ongunstig is en die springgety is twee verdrinkings gister Woensdag, 15 November, voorkom deur bystanders.
Die eerste voorval op Diasstrand was ongeveer 14:25 toe ‘n vrou in haar dertigs, in die moeilikheid beland het.
Vriende van die vrou wat ook op die strand was het haar gehelp en sy is veilig na die strand gebring.
Die tweede voorval was net meer as 30 minute later, en ‘n ent verder weg, toe ‘n man in sy vyftigs met ‘n sleurstroom ingetrek is.
Josh Ras, ‘n lewensredder van die Mossel Bay Surf Lifesaving Club (MBSLC), wat toevallig op die strand was en ‘n branderplankryer, Arden Jonker, het dadelik gereageer.
Jonker het ingeswem en die man gekalmeer terwyl Ras toe met sy bord agterna is en die man op die bord na die strand uitgebring het. Die NSRI het ook op die toneel opgedaag en die man was ongedeerd.
Waarskuwing!
Die publiek word gemaan dat daar geen lewensredders tydens weeksdae gedurende November aan diens is by Dias nie, maar wel op Saterdae en Sondae tussen 09:00 en 18:00. Desember sal lewensredders elke dag aan diens wees.
Swemmers word ook gewaarsku dat die seetoestande tans baie ongunstig is en veral met springgety is die see baie gevaarlik. Sleurstrome is ook een van die grootste gevare en die water moet eers bestudeer word voor swemmers die water betree.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’